George Herald

Kaptein Heynes en sy honde

-

Kristy Kolberg

Na 24 jaar verbonde aan die K9 Honde-eenheid word adjudant-offisier Kelvin Heynes beter bekend as Kallie - tot kaptein bevorder, maar daar kom ook bitter saam met dié soet.

Die bevorderin­g vereis ongelukkig dat hy van sy beste vriend, Frikkie, moet afskeid neem.

Hoewel Heynes nog by die hondeeenhe­id gaan wees, sal hy voortaan in beheer van ‘n skof wees met meer bestuursve­rantwoorde­likheid en dus nie meer operasione­el by die honde betrokke wees nie.

Wat word van Frikkie

Alhoewel die lojale Frikkie na ‘n hondehante­erder in Oudtshoorn skuif waar hy sy werk sal voortsit, sal sy dienste steeds vir die res van die Suid-Kaap beskikbaar wees. Frikkie is tans die enigste liggaamsvl­oeistof-opsporings­hond in die Suid-Kaap.

“Die bevorderin­g kortwiek ongelukkig die band tussen my en my hond. Dit maak seer dat ek van hom sal moet afskeid neem, maar vir vooruitgan­g in my loopbaan is dit belangrik dat ek die pos aanvaar. Ek weet dat Frikkie en sy nuwe hanteerder nog baie suksesse sal behaal. Ek gaan nog ‘n lang pad saam met die honde-eenheid stap en beslis my nuwe rang met passie en oorgawe aanpak,” sê Heynes.

Heynes en sy honde

Heynes het in 1994 by die K9honde-eenheid in Pacaltsdor­p aangesluit waar hy en sy eerste hond, Buks, as die beste hond en hanteerder tydens hul opleiding van ses maande aangewys is.

In 2007 het Heynes ‘n pragtig wit-en-swart skaaphond, Oscar gekry. Tydens Oscar se opleiding is dié gedugte span ook as beste hond en hanteerder aangewys, maar weens epilepties­e aanvalle moes Oscar ongelukkig twee jaar gelede op vroeë aftrede gaan. Oscar woon nou by Heynes.

Verlede jaar was dit Frikkie se beurt en soos sy twee voorganger­s het hy en Heynes óók beste hond en hanteerder tydens opleiding gewen.

Sake wat uitstaan

Iets wat Heynes altyd sal bybly was maar net twee van baie suksesse, wat veral verband hou met moorde en verkragtin­gs, wat hy en Oscar bereik het. Oscar is aan die Outeniqua K9-hondeeenhe­id geskenk.

“Die eerste een was ‘n saak in Da Gamaskop (Mosselbaai) waar ‘n vrou in 2013 vermoor is. Daar was geen ooglopende bewyse op die toneel nie. Ek en Oscar het die area deursoek en Oscar het op bloedspats­els en semen afgekom wat ‘n mense nie met die blote oog kon sien nie. Die DNS is positief met die moord verbind. Gevolglik is vier verdagtes in hegtenis geneem en later tot lewenslang­e tronkstraf gevonnis,” vertel Heynes.

In die tweede voorval sou die polisie seker nooit die bebloede mes waarmee ‘n ma van drie in 2014 in George-Suid aangeval is, gevind het as dit nie vir Oscar was nie.

Dié op en wakker skaaphond het dieselfde dag nog die mes kilometers ver van die toneel in lang gras in ‘n oop veld gevind. Die mes is vir forensiese toetse gestuur en is positief met die aanval verbind. Die slagoffer, wat 23 keer met die mes gesteek is, het die grusame aanval oorleef.

“Ek glo nie daar is ‘n meer passievoll­e hondehante­erder as ek nie. Ek hou daarvan om die voorbeeld te stel en dat mense my moet namaak, wat baie moeilik is,” het Heynes met ‘n glimlag gesê.

 ?? Foto’s: Kristy Kolberg ?? Pa en sy seuns. Kelvin Heynes, Oscar (wit-en-swart) en Frikkie geniet ‘n bietjie vars lug en speeltyd so tussen die werk deur.
Foto’s: Kristy Kolberg Pa en sy seuns. Kelvin Heynes, Oscar (wit-en-swart) en Frikkie geniet ‘n bietjie vars lug en speeltyd so tussen die werk deur.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa