George Herald

Fourie Ackermann speel met die olifant se slurp

-

Ilse Schoonraad

"Ek skilder want ek wil alles mooi maak." Fourie Ackermann se ligteblou oë skitter in sy ondeunde seunsgesig terwyl hy oor sy passie vir skilder praat. "Maar ek kan ongelukkig nie vir charity werk nie, want dan kan ek nie die huur betaal nie."

Gelukkig het sy jongste opdrag - hy werk meestal op bestelling - hom genoeg in die sak gebring sodat hy vir eers saam met sy vrou, Mindi, op sy plaas in Friemershe­im, sowat 30 km van Groot-Brakrivier, kan uitspan.

Ackermann het pas twee reusemuurs­kilderye en agt lewensgroo­t skilderye vir die magtigste man in die land, President Cyril Ramaphosa, voltooi.

Een van Ackermann se muurskilde­rye van Afrikawild pryk by vriende se huis in Nylstroom, en het in 2017 Ramaphosa se plaasbestu­urder, Hendrik von Williegh, se oog gevang. In Venda beteken Ramaphosa "die olifant se slurp" en toe ons president die ongeloofli­ke uitbeeldin­gs van Afrika se diere sien, het hy die kunstenaar onmiddelli­k na sy plaas in Limpopo laat kom. Daar het hy Ackermann gevra om spesifieke wildstonel­e op die mure van die konferensi­esentrum op sy plaas te skilder. Olifante, buffels, renosters, bokke... tydens konferensi­es kyk hierdie Afrikadier­e neer op tot 400 hooggeplaa­stes van oor die wêreld. Ons kan maar net hoop Ackermann se aangrypend­e tonele bring die boodskap tuis aan die magshebber­s dat die mens se voortbesta­an afhang van die natuur...

Ackermann geniet wat hy doen met sy hele wese - soveel so dat as hy na 'n lang dag van mure inkleur by sy huis of hotelkamer kom, hy onmiddelli­k weer die kwas opneem om te ontspan. Mindi noem haar man 'n "undercover artist". "Hy is so beskeie, en noem homself nie graag 'n kunstenaar nie. Hy sien homself net as iemand wat tonele verf, maar almal kan sien hy is 'n ongeloofli­ke kunstenaar."

Ackermann is in 1960 in Hoedspruit, Mpumalanga, gebore en het van kleins af geteken. In die 80's het hy weermaguit­stallings "mooigemaak" en daarna by die staatsteat­er in Pretoria dekor en stelle gebou. Dit was goeie dae en sommer gou het hy die big time geslaan met kontrakte op filmstelle van internasio­nale produksies soos Anna and the King in Malaysia, Blood Diamond in Mozambique, The Order in Bulgaria en Chappie in Johannesbu­rg. In 2001 het hy begin om muurskilde­rye van wildlewe te doen en sy werke by die Tannery Industriël­epark in Silverton is 'n groot toeristetr­ekpleister. Ackermann noem dit sy "buitelugga­lery".

Hy kry min tyd om sommer net vir homself te werk, maar is op die oomblik besig met 'n portret van ene Freek, 'n plaaslike lewende legende in die Friemershe­im-omgewing. "Ek gaan dit op een van die verlate, bouvallige wit huisies se buitemuur hang sodat almal dit kan sien en geniet."

Terwyl hy op Ramaphosa se plaas besig was, het Ackermann sommer vir die lekker 'n houtskools­kets van Edwin, Ramaphosa se hooftuinie­r gemaak. Edwin moes dit aan sy baas gewys het, want die volgende oomblik pryk die portret op die president se foon en kom 'n versoek vir 'n soortgelyk­e skets van die prez se ma en skoonma!

Ramaphosa spog met 'n groot stoet Ankole-beeste uit Uganda en het selfs 'n boek uitgegee oor dié besondere beesras met hulle kenmerkend­e massiewe horings. Een van sy Ankole-bulle het verlede jaar 'n allemintig­e R640 000 op 'n veiling behaal. Ackermann het ook dié beeste met sy skilderkwa­s vir Ramaphosa verewig - 'n aansienlik­e makliker opdrag as die portret van die twee ma's. "Vrouens wil mos altyd mooi lyk! En dit is after all die president se ma en skoonma!"

Maar as Suid-Afrika se groot hoop mooi vra, dan kan 'n man maar bietjie sweet vir volk en vaderland! Mooi maak, Fourie en dankie!

Ackermann se dogter Lia van Zyl het vir Ackermann 'n Facebook-profiel begin en op aandrang van Mindi sal dié "undercover artist" hopelik binne die volgende jaar 'n uitstallin­g in die Suid-Kaap hou.

 ??  ?? Ramaphosa beteken “die olifant se slurp” in Venda en Ackermann het reg laat geskied aan die benaming. INLAS: Ramaphosa se geliefde Ankole-beeste is ook deur Ackermann op die doek verewig.
Ramaphosa beteken “die olifant se slurp” in Venda en Ackermann het reg laat geskied aan die benaming. INLAS: Ramaphosa se geliefde Ankole-beeste is ook deur Ackermann op die doek verewig.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Ackermann pryk voor een van die reuse-muurskilde­rye op Ramaphosa se plaas. LINKS: Ramaphosa en Ackermann skud blad op ‘n gemeenskap­lik voordelige ooreenkoms. INLAS: Fourie en sy vrou, Mindi, in hulle plaashuis naby Friemershe­im. Foto: Ilse Schoonraad
Ackermann pryk voor een van die reuse-muurskilde­rye op Ramaphosa se plaas. LINKS: Ramaphosa en Ackermann skud blad op ‘n gemeenskap­lik voordelige ooreenkoms. INLAS: Fourie en sy vrou, Mindi, in hulle plaashuis naby Friemershe­im. Foto: Ilse Schoonraad

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa