Help, ons dak is weg!
Ek het dae lank reeds gehunker na ‘n werkdag met minder drama en probleme (Departement Omgewingsake, Pretoria, doer in die middel van die negentigs). Vroegoggend kom die Direkteur: Antarktika en Eilande ongeskeduleerd binne met kraakvars nuus.
Op die onherbergsame Marion-eiland, 2 200 km vanaf ons kuslyn, is die dak van die hoofgebou die vorige nag deur ‘n windstorm afgepluk en eenkant gegooi. Die sentrum van elke dag se bestaan was onbeskut gelaat. Die oorwinteringspan van twaalf lede sou lang maande van ontbering in uiterste weerstoestande moes probeer oorleef. Ons moes iets vanaf hoofkantoor doen. Daar was geen middele en voorrade waarmee ‘n tydelike dak op die barre eiland opgetower kon word nie.
Die department openbare werke sou eers “volgende jaar” saamdoen met herstel en instandhouding aldaar. Ook word ‘n skip selde daardie tyd van die jaar in die stormkolk van die suidelike oseaan ingestuur. Boonop was ons strydros, die destydse SA Agulhas, geskeduleer vir allernoodsaaklike herstelwerk en versiening.
Daar was darem ‘n plan in die kop.
Eerstens, ons het dan ‘n minister! As departementshoof bel ek dadelik Kaap toe. Ek pleit dat minister Pallo Jordan uit sy vergadering stap. Hy kom sowaar! Hy luister na my uur lange uiteensetting, voorstelle en aanvaar die klem dat die krisis lewensbedreigend is. Hy loods pertinente, praktiese vrae. “He rose to the occasion” en tree dadelik in gesprek met die minister van verdediging.
Die plan was om ‘n Herculesvragvliegtuig van die lugmag vir ‘n wondersending aan te vra. Groot waterdigte seile en toepaslike toerusting moes met een vlug op die eiland afgegooi word. Daar was nie eers ‘n primitiewe landingstrook nie. Vlugbeheer moes die vrag op ‘n tiekie op die eiland “neersit”. Die eilandspan sou ‘n sirkel vorm om met brandende merkers die teikensirkel vir die uitsmyt aan te dui. Die “over-to-you”boodskap het seker ook maar afskeep geklink.
Die Jordan-opdrag aan my was om heeltyd binne armlengte van die foon te bly. Hy moes voortgaan met sy parlementêre take. Dit word ‘n lang kantoordag - verby nege die aand. Die oproepe stroom heen-en-weer. Ek leer die topbestuur van die weermag in die oorgangstyd van die nuwe Suid-Afrika opnuut ken. Elkeen het sy diverse, tog duidelike taakterrein. Ons hou nie vergadering nie - onmoontlik in sulke omstandighede.
Gelukkig was die lugmag weereens ons bekwame vennoot - ingeroep op die dramaverhoog bo die woeste waters van die suidelike see. Vennote in die aksieplan moes aller-detail vinnig uitklaar - wisselende afstande in stormsterkwinde
(sal die brandstof hou en wie betaal?), navigasiehulp, verwagte weer, topografie van die eiland (vir ‘n laagvlug in swak sig), radioverbindings, en meer.
Een vals noot weerklink in die hele drama. ‘n Oproep vanaf ‘n generaal het seker maar as agtergrond ‘n kader-aanstellinkie. Hy vra my: “Comrade, please tell me, where is this island?”
Die getroue ou werkesel het die volgende oggend gevlieg. Die vrag is in die kol afgelewer. Die eilandpersoneel het ‘n tydelike dak opgerig en hul jaarskof “ongedeerd" voltooi. Lesse is geleer. Tans beskik die basis oor ‘n uitmuntende kompleks van R200 miljoen.