Trots op vroue wat hul plek inneem
Verlede week lees ek drie stories raak waarin die George-munisipaliteit die kollig op vroue plaas wat in poste is wat in die ou dae slegs deur mans beklee is. Dit is deel van die munisipaliteit se Vrouemaand-stories wat hulle regdeur Augustusmaand sal plaas. Dit sluit in vragmotorbestuurders, elektrisiëns, ensovoorts.
Ek kry so lekker, want ek is trots op dié vroue wat nie terugstaan vir hul testosteroonbelaaide kollegas nie, maar toegewyd en hardwerkend is. Sommige doen die werk selfs nog beter as die mans.
Soveel vroue, ook hier in George, neem hul plek in, in die sakewêreld; eintlik oral in die werksplek.
Dieselfde vroue het dan nog boonop ook 'n kardinale rol in haar huis as ma en broodwinner, haar kerk en haar gemeenskap.
Hulle skroom nie om hul plek in die samelewing in te neem nie.
Ons rol as vrou het verander van die dae toe 'n vrou se rol net die van tuisteskepper was en soms met weinig regte.
So, gryp elke geleentheid aan wat jou kant toe kom, bekwaam jouself en jy sal hoë hoogtes bereik.
En terwyl almal opgewonde en bly is oor die vakansiedag (vandag, 9 Augustus), moet ons nooit vergeet hoekom ons Vrouedag vier nie.
Ons moet hulde bring aan ons vroue wat die stryd teen die apartheidsregering help voer het.
Op 9 Augustus 1956 het sowat 20 000 vroue en lede van die Federasie van SuidAfrikaanse Vroue na die Uniegebou in Pretoria opgeruk om teen die voorgestelde wysigings aan die groepsgebiedewet (algemeen bekend as die paswette) van
1950 te protesteer.
Hulle het petisies met meer as 100 000 handtekeninge by die kantoor van die eerste minister, JG Strijdom, ingehandig. Die optog is deur Helen Joseph, Lillian Ngoyi, Rahima Moosa en Sophia Williams gelei.
En as jy wel vandag in die moderne tye so bevoorreg is om 'n tuisblymamma en vrou vir jou gesin te wees, wat ook maar 'n voltydse werk is, geniet dit en doen dit met trots.
Soms is ons beroepsvroue net so 'n titseltjie jaloers.