Barmhartige samaritaan vra hulp vir bene
'n Vrou wat welbekend is in die dorp vir haar deernis vir ander, probeer tans haar broer help met 'n nuwe stel kunsbene.
Charmaine Boshoff van West Coast Restaurant is voortdurend besig om kinders, dwelmverslaafdes en ander hulpbehoewendes te help, maar dié keer wil sy graag haar eie broer bystaan. "Hy het my nou broodnodig," het sy tydens 'n onderhoud aan die George Herald gesê.
Stephan Boshoff (53) woon tans in Thaba 'Nchu naby Bloemfontein en werk vir 'n groentehandelaar in Botshabelo, waar hy produkte toets. Stephan sukkel egter om sy werk volkome te verrig want hy kan nie die produkte op die boonste rakke bereik nie. Die kunsbene wat die staat kan verskaf is geweldig swaar en hard, en veroorsaak sere en bloeding op sy stompies. "Dit is moeilik om mee te beweeg en hy maak dit moeilik vas, want hy het erge artritis in sy hande," het Charmaine gesê.
Stephen het sy bene verloor weens 'n bloedtoevoerprobleem na sy bene, wat twee jaar gelede ontstaan het. Hy is ook 'n diabeet. "Eers het van sy tone afgeval en sy voorbene was letterlik net vel en been," vertel Charmaine. "Beide sy bene moes geamputeer word."
Stephen is intussen aktief betrokke by projekte vir gestremdes. Hy was een van die organiseerders van 'n rolstoelwedren wat onlangs vir 40 mense in sy gemeenskap gehou is. Volgens Charmaine het hy ook gehelp om parkeerplek vir gestremdes by 'n winkelsentrum aan te bring. "Hy oefen by 'n gimnasium om fikser te raak en neem graag op uitnodiging aan sport deel," het sy gesê.
Die prostesis wat Stephen benodig kos sowat R120 000. Diegene wat graag wil bydra tot Stephen se kunsbeenfonds kan Charmaine kontak by 044 871 0463 of
071 164 5169 of stuur 'n e-pos na wcr@ mweb.co.za.
Die kunsbene wat die staat kan verskaf is geweldig swaar en hard, en veroorsaak sere en bloeding op sy stompies.