Vroue op hoë vlak
Vir ‘n taak elders het ek die opdrag gehad om oor vroue in hoë poste te skryf. Toe raak ek moeg vir die afgeforseerde hokkies op ‘n voorgeskrewe lys akademie, ekonomie, finansies, politiek en al die ander. Ek beloof toe om die produk steeds op ‘n hoë vlak, maar selektief saam te stel. Dadelik foeter ek die buitenste ruimte in, maar definitief nie letterlik nie! My skryf-produk fokus toe op vroue as ruimtereisigers - dis immers ‘n hoë vlak.
Die eerste vrou op ‘n ruimtesending was die Sowjet-burger, Valentina Tereshkova, met die Vostok Ses-missie in 1963 - relatief gou na Joeri Gagarin die eerste man in 1961 in die ruimte was. Meer as twintig jaar later (1984) volg nog ‘n Russiese vrou, Svetlana Savitskaya - sy bewandel die ruimte buite die tuig - ‘n EVA (extravehicular activity).
Moet jou nie met die Russe misgis nie hul het gemaklik vroue van ander nasies ingesluit - soos die Amerikaners ook met reeds meer as veertig vroue in die ruimte.
Die VSA se eerste vroue-ruimteheld was Sally Ride in 1983, as deel van die sewende Space Shuttle-sending. Ook het vroue in die ruimte gesterf. In 1986 het die Challenger, 73 sekondes na opstyging, ontplof - sewe dood. In 2003 het die Columbia gedisintegreer toe dit huiswaarts die aard-atmosfeer binnegekom het, weer sewe dood.
Onder hul was die “bubbly 37-year-old schoolteacher, Christa McAuliffe, who had been selected from more than 11 000 applicants”.
Die belangrikste les uit die ruimteaktiwiteite van die twee leierlande, is dat vroue in die mees uitdagende werkplekke, nie een tree vir die manne terugstaan nie. So baie hang egter af van die man se houding teenoor die vrou. Ek knoop hierdie stelling ook vas aan ‘n persoonlike ervaring nader aan Moeder Aarde.
Dit was ‘n koue winteroggend waarop ek vroeg by Lanseria-lughawe, wes van Pretoria, vir ‘n reis na Pietersburg, nou Polokwane, as een van ‘n groep van tien manne, moes aanmeld. Dit was ‘n private vlug in ‘n klein, amper vuurpylagtige snelstraler. Met die naderstap is ons deur ‘n amptenaar vriendelik versoek om opsy te staan sodat die bemanning eerste aan boord kon gaan.
‘n Vrou met ‘n jas bo-oor haar uniform het die bemanning ferm nader gelei. Een van die passasiers, ‘n man wat ek toe nog glad nie geken het nie, spreek haar erg uitdagend aan: “Juffie, watse lekker ontbyt gaan jy vir ons bedien?” - met die aanname sy is ‘n vlugkelnerin. So in haar stap flerts die dame nonchalant die boonste lapel van haar jas oop. Daar vertoon die vlerkie-kenteken blink en trots - sy is ‘n gekwalifiseerde vlieënier.
“Meneer”, sê sy. “Ek bepaal vandag of jy vlieg of val.” Ek dink tot vandag sy het doelbewus die groep manne bang gevlieg. Daar was wilde draaie, ook vinnig op en af. In ‘n rekordtyd land ons by Pietersburg. Voor dit het die tien manne benoud vasgeklou. Die ou met die aanvanklik astrante vraag het uiteindelik die vliegtuig asvaal verlaat, sy ontbyt onaangeraak agtergelaat.
Mag die manne in Vrouemaand goeie lesse oor en van vroue inneem!
(Ons wêreld verskyn elke tweede week)
Moet jou nie met die Russe misgis nie - hul het gemaklik vroue van ander nasies ingesluit - soos die Amerikaners ook met reeds meer as veertig vroue in die ruimte.