Sosiale media is handig, maar wees versigtig
Die gebruik van sosiale media deur munisipale amptenare is nie noodwendig negatief nie, maar hulle moet versigtig wees hoe hulle dit gebruik. Dit was die boodskap van Annalene de Beer, direkteur korporatiewe dienste van die Stellenbosch-munisipaliteit, tydens die Instituut vir munisipale amptenare en administrators van Suid-Afrika (IMASA) se konferensie wat by die Oubaai Hotel in George (Heroldsbaai) gehou is.
IMASA is ‘n sambreelorganisasie vir munisipale administratiewe amptenare. Munisipale amptenare van stede en dorpe in al nege provinsies het die konferensie bygewoon en koppe bymekaar gesit oor die pad vorentoe.
De Beer, een van die gassprekers, het gesê die landskap het die afgelope paar jaar dramaties verander met die vestiging van sosiale media.
Sy het daarop gewys dat alles wat iemand op sosiale media deel, is vir altyd in die openbaar. Nuus versprei vinnig. Slegte nuus versprei vinniger en sosiale media is soos ‘n veldbrand.
Sosiale media is ‘n magtige stukkie gereedskap. Ongelukkig is daar negatiewe aspekte. Sy het verwys na “fake news”.
“Mense moet besef hulle het nie altyd beheer oor die nuus wat versprei word nie. Munisipale amptenare moet in gedagte hou hulle is staatsamptenare en onderhewig aan streng gedragskodes. So moet hulle byvoorbeeld te alle tye optree in die belang van hul werkgewer. Hulle is 24 uur van die dag staatsamptenare en dit hou nie op as hulle huis toe gaan nie.”
Sy het gewaarsku iemand loop gevaar om uit diens ontslaan te word as hy/sy iets negatiefs op sosiale media plaas.
Gerrit Pretorius, speaker van die Georgestadsraad, het namens die burgemeester, die verwelkoming gedoen. Hy het gesê dienslewering is die hart van munisipaliteite en dat munisipale amptenare die ruggraat is van munisipaliteite.
Edward Jantjies, direkteur korporatiewe dienste van die Mosselbaai-munisipaliteit, het verwys na die talle uitdagings waarvoor munisipaliteite te staan kom. Dit sluit in bedrog, swak of geen regering en raadslede wat nie bevoeg is nie.
Daar is ook baie ongelukkige mense en amptenare het daagliks te doen met onrus. Onrus word erger. Betogers verniel nie net meer munisipale kantore nie, maar ook infrastruktuur in gemeenskappe.
Chèrel Jansen van Rensburg, uittredende president van IMASA, het aan die George Herald, gesê die uitdagings word beslis groter.
Sy het benadruk baie van die mense het rede om te kla. Daar is op sommige plekke nog steeds nie toegang tot elektrisiteit, water en sanitasie nie. IMASA het begrip daarvoor.
Winnie Baloyi, IMASA se nuwe president, het gesê nieteenstaande al die uitdagings waarmee munisipaliteite te doen kry, is sy steeds hoopvol.
Sy het daarop gewys dat alles wat iemand op sosiale media deel, is vir altyd in die openbaar.