Bababokkie leef danksy rehabilitasie
Alida de Beer
"Pippie, Pippieee, kom, kom, kom. Kom hier liefie!" roep Johan Yssel. En hier kom sy aan, 'n kleine bokkie op kierietjiebeentjies met stertjie wat heen en weer swiep, tydsaam, tot reg by ons. Sy ignoreer eers vir Johan, haar aangenome 'pa', en kom snuffel nuuskierig aan my soos 'n wafferse hond. Haar groot, donker oë en die ore wat nog te groot is vir die fyn lyfie is reg in my gesig toe ek op die gras gaan sit. Ek's totaal oorrompel.
Dié twee en 'n half maande oue springbokkie sou waarskynlik nie vandag sorgeloos in 'n groot kamp in Wildernesshoogte rondgehop en wei het as dit nie was vir Johan se weeksagte hart vir diere nie.
Hy het talle wilde diere al gerehabiliteer en toe dié pasgebore ooitjie met lam agterbene in 'n krat by Kaapse Natuurbewaring beland, het hulle geweet om op sy nommer te druk.
Pippie het op 13 Augustus op Oubaai haar opwagting gemaak en die prognose was dat sy feitlik geen kans op oorlewing het nie. "Haar linkeragtervoetjie was 'n horrelvoet wat in die ma vasgehaak het. 'n Veearts moes die ma met 'n verdoofgeweer skiet sodat hy met die geboorte kon help.
Daarna het Oubaai haar na die DBV geneem wat Natuurbewaring gekontak het," vertel Johan.
Sy kon glad nie loop nie. Johan het haar die dag na geboorte gekry. Hy het albei agterbene met stokkies gespalk (dié wat dokters gebruik in keelondersoeke). Later was net die een been in spalke. "Dit het drie weke gevat om die horrelvoet bietjie vir bietjie reguit te kry. Fienie, my vrou, het vir haar 'n hangverband gemaak van 'n ou handdoek waarin ons haar laat oefen het om te loop." Pippie het vir twee maande langs hulle bed geslaap, en soms ook by hulle in die bed. Later het sy sommer self op die bed gespring.