George Herald

Kinders op straat ‘n groot kopseer in grendeltyd

- Michelle Pienaar

'n Maatskapli­ke werker van Youth for Christ Kidstop in Borcherds was stomgeslaa­n toe sy en haar span 'n vyfjarige seuntjie op straat aantref met 'n mes so lank soos sy voorarm. "Ons het in Thembaleth­u rondgery toe ons die kind saam met 'n paar maats op straat gewaar," het Sonika Badenhorst gesê.

Die direkteur van Kidstop, Jonathan Gelderbloe­m, het haar vergesel tydens die onlangse voorval. Dit het mooipraat gekos om die mes van die kind weg te neem en dit aan sy ouer boetie te besorg, met 'n opdrag om dit dadelik huis toe te neem. Die klein seuntjie was in trane omdat hy sy mes kwyt is. "Dit is ongelukkig die manier waarop kinders hulself op straat beskerm," het hy gesê. "Maar dan ontstaan daar situasies en kinders steek mekaar dood."

Die voorblad van George Herald verlede week plaas bendegewel­d in Borcherds in die kollig. 'n Man is vermoor en vier ander slagoffers is met pangas en skerp voorwerpe aangeval.

Die verdagtes in die saak is al drie minderjari­g. Dít slegs tien dae nadat 'n 12-jarige seun van Borcherds na bewering deur 'n 11-jarige doodgestee­k is.

"Die spanning in Borcherds het na 1 Junie skerp toegeneem," het Gelderbloe­m gesê. "In die tyd toe die verbod op drankverko­pe gelig is, was dinge nie meer so rustig nie." Badenhorst het dit beaam, en het gesê hulle is baie verlig dat die skole weer oop is en die drankverbo­d op Sondag 12 Julie heringeste­l is. "Dit is veral die kinders wat in Borcherds se plakkerska­mp bly wat tydens grendeltyd baie swaarkry," het sy gesê. "In groot dele van Borcherds is daar nog hoop, maar dáár, in Spandielst­raat, het hoop die mense verlaat." Badenhorst het gesê sy het klein kinders op straat sien ronddwaal - vuil en honger - nadat drankverko­pe weer toegelaat is. "As die ouers rustig is, is die kinders rustig. Maar die ouers is nie meer rustig nie. Ons kan dit sien aan die kinders."

Kinders wat bedel

'n Lid van George-Suid se buurtwag, Aubrey Aspeling, is bekommerd oor die kinders wat by die verkeersli­g van die Redefine-boulevard-winkelsent­rum in Yorkstraat bedel. Volgens Aspeling dobbel die kinders op straat en baie van hulle gebruik dwelms. Gelderbloe­m het dit beaam en gesê wanneer mense vir die kinders geld gee, gaan dit verseker nie op kos spandeer word nie. "Ons ken elkeen van hulle, ons weet waar hulle woon en is in kontak met die ouers. Dit is 'n moeilike saak, en ons is besig om maatskapli­ke stappe te neem, maar glo my, hulle stap eerder 5 km na die dorp voordat hulle 'n paar 100 m na Kidstop stap vir 'n warm bord kos," het Gelderbloe­m gesê.

Munisipale direkteur van gemeenskap­sdienste, Walter Hendricks, het by navraag gesê alhoewel dit nie die munisipali­teit se mandaat is nie, werk hulle saam met maatskapli­ke organisasi­es, sowel as die polisie, om die oorhoofse probleme rondom mense en kinders op straat op te los.

Volgens Steven Erasmus, direkteur van beskerming­sdienste, ontruim die kinders spesifieke areas slegs vir 'n ruk na optrede van die munisipale eenheid vir wetstoepas­sing wanneer klagtes in die verband ontvang word. "Laasgenoem­de uitdaging behoort egter op 'n meer volhoubare wyse deur die departemen­t van maatskapli­ke ontwikkeli­ng, met die hulp van onder andere nie-regeringso­rganisasie­s soos kerke, aangespree­k te word," het hy gesê.

Kidstop se deure is vanaf Maandag 13 Julie weer oop vir nasorg. Donasies van skoolskoen­e en klere vir kinders van 7 tot 18, sowel as blikkiesko­s, word verwelkom. Youth for Christ Kidstop het die afgelope drie maande kospakkies uitgedeel aan al hul kliënte se families. Die laaste kospakkies is Vrydag 10 Julie deur Kidstop aan gesinne oorhandig.

Kontak Kidstop by 044 874 2624.

 ??  ??
 ?? Foto: Videogreep ?? Sien ‘n video by
Drie seuns dobbel op ‘n sypaadjie voor die Redefine-boulevard-winkelsent­rum in Yorkstraat.
Foto: Videogreep Sien ‘n video by Drie seuns dobbel op ‘n sypaadjie voor die Redefine-boulevard-winkelsent­rum in Yorkstraat.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa