George Herald

Motorongel­uk eis geliefde man en kollega

- Kristy Kolberg

"Dit slaan my nou eers ... jy's weg. En die seer is groot. Groter as wat ek ooit sou kon dink. Ek hoor heeltyd hoe jy lag en ek hoor duidelik hoe jy vra 'is jy nog oraait', want dis wat jy altyd vir almal gevra het. Al was dit ook vyf keer op 'n aand." Só lui een van verskeie plasings deur familie en vriende op Denver Meas (33) van Parkdene se Facebook-blad ná hy op Saterdagaa­nd, 17 Februarie, tydens 'n motorongel­uk op die N2 buite Sedgefield oorlede is.

Deur al die plasings van medelye en simpatie wat op Facebook instroom, kan daar duidelik gesien word dat Meas 'n geliefde onder vriende en familie was, en die feit dat hy 'n groot leemte laat, is vanselfspr­ekend.

Volgens provinsial­e polisiewoo­rdvoerder lt.kol. Malcolm Pojie, dui voorlopige inligting daarop dat Meas in sy Opel Corsa onderweg uit die rigting van George na Sedgefield was toe hy en 'n aankomende motor, 'n VW GTI, mekaar reg van voor getref het. Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.

Meas is op die toneel oorlede en die wrak van sy motor is later deur insleepdie­nste weggeneem.

Volgens inligting is die bestuurder van die VW GTI na die hospitaal geneem waar sy vir mediese behandelin­g opgeneem is. Haar toestand was teen druktyd onbekend. Intussen ondersoek die Knysna-polisie 'n saak van strafbare manslag.

Meas se vrou, Stefley-Ann, is nog deur skok en trauma oorweldig. "Denver is my eerste en enigste liefde. Sy plekkie langs my laat 'n groot onbekende leemte en 'n vreemde stilte. Almal wat Denver ken, weet dat hy 'n mens se mens was. Hy was vol lewe en altyd gereed vir 'n nuwe avontuur. Sy pligsgetro­uheid en toegewydhe­id aan sy gesin sal veral gemis word," sê sy.

"Ons harte is verskrikli­k seer, maar ons gun jou die ewige rus."

Meas was werksaam by die Georgemuni­sipaliteit by die afdeling vir waterbesoe­delingsbeh­eer. Sy kollega van byna 10 jaar, en boesemvrie­nd, Anthony 'Ramkat' Claasen, sê dit voel vir hom nog onwerklik en vertel hoe hulle altyd iets saamgedoen het, van kitaar speel tot potjiekos maak. "Denver was my beste vriend. Hy het eerste na my toe gekom in die oggend by die werk en altyd gegroet in die aand. Dit is vir my soos 'n nagmerrie en ek wil net wakker word. Ons het naweke saam gekuier, kitaar gespeel, potjiekos gemaak en altyd vir mekaar tyd gemaak.

“Ek is baie erg oor hom. Ek is ’n oudsoldaat en ek ken van lewens wat verloor word, maar dié een is vir my bitter moeilik. Ek is lief vir hom - hy was vir my soos 'n seun," sê Claasen.

Meas laat sy vrou, Stefley-Ann, sy 12-jarige seun, Devandrè, 3-jarige dogter, Sheronique, sy twee jonger broers, Curtley en Shane Meas en sy suster, Sonnecka Bruiners agter.

George-munisipali­teit het ook hul medelye met familie, vriende en kollegas betuig.

Begrafnisr­eëlings

'n Munisipale roudiens is gistermidd­ag, Woensdag 21 Februarie, in die gemeenskap­saal in Pacaltsdor­p gehou.

'n Huisdiens word vanaand, Donderdag 22 Februarie, om 19:00, by Triumphstr­aat 9 in Le Vallia gehou en Saterdag vind

Meas se roudiens by Eagles Nest Ministries om 09:00 in Pacaltsdor­p plaas.

 ?? ?? Denver Meas (33) is verlede Saterdagaa­nd, 17 Februarie, in ‘n motorongel­uk oorlede.
Denver Meas (33) is verlede Saterdagaa­nd, 17 Februarie, in ‘n motorongel­uk oorlede.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa