Graaff-Reinet Advertiser

TWEEDE STEM Brieweblad - Pappie se pakkies

- Teresa Opperman

‘n Plaasvrou wat 120 km van die dorp af bly, ry nie vir elke bakatel dorp toe nie. Dit besef ek, en Pappie ry ook nie vir elke bakatel dorp toe nie, behalwe as daar dringend sigarette nodig is, maar dit tel sekerlik nie as ‘n bakatel nie. Kan ‘n mens sê, hy ry dan uit noodweer dorp toe?

Die dae toe ons skoolkar gery het, en in ‘n saamryklub was, moes ons noodgedwon­ge een keer per week dorp toe gaan, en reeds toe al het ek agtergekom, Pappie praat meer met my as ek in die dorp is, as wanneer ek tuis is. Dis nou vandat selfone beskikbaar geraak het. Ag, dis net vir hom té lekker om my ’n luitjie te gee, waar ek in die tou staan by die kitsbank om kontantlon­e te trek, of waar ek saam met ‘n vriendin, wat ek twee jaar laas gesien het, gou ‘n koppie koffie drink. Die redes vir dié oproepe was nie altyd duidelik nie dalk om uit te vind hoe laat die skool uitkom; asof die skool nie elke dag van die skooljaar dieselfde tyd uitkom nie. Of dalk om te vra of my nuwe skoene gemaklik sit. Maar ek het baie gou geleer, hierdie oproepies word met ‘n spesifieke doel gemaak, en dit is nie omdat hy dood van verlange, of besonder lief is vir my nie. Nee, die oproepe gee hom onvoorwaar­delike vreugde! Dit laat sy hart onbeskryfl­ik lekker vinnig klop… Hy kan my stuur!

Met die saamryklub het ek soms tot ses kinders opgelaai, en die bagasie met meganiese presisie ingepak en gesorg dat elke kind veilig is, ‘n ietsie het om aan te peusel en genoeg drinkgoed het, voordat ek die lang pad plaas toe aanpak. Hou in gedagte, soms kom daar ‘n volle hokkiedoel­wagterstel saam, soms ‘n volledige krieketkol­fstel met beenskutte by. Dit het dus ook tegniese vaardighed­e geverg, en soms moes ons kinders maar met skoolboeke wat vir huiswerk bestem was, sonder skooltas huiswaarts keer.

Dan bel Pappie, “Hoe ver is julle?” Hy het dan gevra hoe laat kom die skool uit. Nou as die skool half twee uitkom, hoe skat hy nou waar gaan ek kwart voor twee wees? “Nog besig om te laai,” antwoord ek. “Gaan maak gou ‘n draai by die OVK, ek het alles gereël en betaal,” kom die versoek wat my ‘n angsaanval gee. “Dis net ‘n paar goedjies!” En in my gedagtes sien ek hoe ek die Sierra aflaai én oorpak. EN dan is dit so, wanneer ek by die OVK stop, staan hulle en wag met vier bakke lek, twee sakke saad en vier sakke 12,5 kg-mieliemeel. “Het Pappa vergeet ons klim ook in?” vra my oudste dan. En my moermeter is kniediep in die rooi. Maar ons laai af en ons laai oor en sommige kinders sit op sakke met tefsaad, en ander sit op die mieliemeel­sak, terwyl die volle vrag bo-op die lekke staangemaa­k word.

Nou deesdae is daar nie meer skoolkarre nie, maar een keer elke ses weke, soms elke drie maande, boek ek myself af vir die dag. Maak die vorige dag vir Pappie sy middagete, en dan ry ek vroeg dorp toe, want dis voete, vingers, hare, voorskrift­e, tandarts, die skrale moontlikhe­id van ‘n ete wat ek nie self voorberei het nie, maar wat ek self gaan betaal, wat ek vir die dag in berekening gebring het. ‘n Besoek aan my geliefde tannie Sarie, en ‘n sjokolade vir kleine Nytjie Bytjie net voor ek laatmiddag voddemoeg omdraai. Dit was gister.

Teen 14:30 bel Pappie weer en ek sê vir myself, "ja-nee, laat ek net geduldig wag, en die gesprek uitluister". Plek het ek, en so tussen die afsprake het ek so tien minute hier en daar. “Kry GOU vir my twee nuwe bande, by die bandeplek, dan gaan jy uit na OVK daar buite, en kry gou ‘share bolts’ en lemme vir die snyer, dan gaan jy na OVK in die dorp en gaan laai gou hondekos, mieliemeel en rantsoene. Ry dan gou by Gary aan en kry die goed wat ek bestel het, en dan gaan jy by Ledoux en kry gou vir my twee blikkies olie, en dan gaan jy gou by John Deere, ek het klaar bestel.”

“GOU is ‘n hele dag se draaie! Ennnnn, daar gaan my moermeter weer!”

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa