Graaff-Reinet Advertiser

KLAAS NIEMANDT - Vier sporte en twee stutte

-

Alex Lombaard

Op Oom Klaas se werf is ‘n gedeelte met ‘n huis wat nie so oud lyk soos dit is nie.

Die huis het ‘n solder. Die solder het ‘n klein deurtjie net onderkant die dak. Met die eerste oogopslag lyk dit amper asof die deurtjie in die lug iewers tussen êrens en nêrens sit.

Van die grond na die deurtjie is ‘n leer en dit is juis die leer wat ‘n mens laat besef die huis moet beslis heelwat ouer wees as wat hy lyk. Die houtleer is so verweer dat g’n mens kan dink enigiemand kan dit nog teen hom opwaag nie: daar is ‘n onderste sport naby aan die grond; dan tussen die middel en bo is daar drie sporte wat mekaar volg; en dan is daar weer niks nie, behalwe die twee steunkante van die leer, wat lei na die platform by die deurtjie. Ek vind oom Klaas so ‘n paar treë van dié prentjie af waar hy van onder ‘n boom die verweerde leer staan en betrag.

Ons groet en ek sien sommer ons kuier is vandag reg onder hierdie boom met die leer ons fokuspunt. “Jy het my eendag gevra hoe hou ek koers, en gaan ek net aan, kom wat wil,” herinner oom Klaas my aan een van my vele onbeantwoo­rde vrae aan hom. Ek knik instemmend, want ek onthou maar te goed – ek het dit juis gevra toe ek self in ‘n redelike penarie was; onseker oor my lewenskoer­s; twyfelend of ek op die regte pad is en sommer in die algemeen beswaard oor waarheen die wêreld op pad is en hoe die lewe loop.

“Dáár staan jou antwoord. Vier sporte. Twee stutte. Saam vorm hulle ‘n leer.

“Wat jy daar sien, is my heilige lewe. Dis waar ek vandaan kom; dis hoe ek deur die lewe gaan; dis waar ek op die oomblik is; en dit is waarheen ek op pad is. En of ek wil of nie: dis ‘n prentjie wat ís – of dit ‘n mooi of onduidelik­e prentjie is, is nie vir my om te sê nie; dis vir die ou wat daarna wil kyk, om te besluit. Maar dit is mý lewensloop en mý lewe.

“Daar is die twee punte: die grond en die platform by die deurtjie in die lug; tussenin die leer. Die grond is waar ek vandaan kom; waar ek begin het, die begin van die leer. Die platform is waarheen ek op pad is. Die twee stutte tussen die grond en die platform is my skakel tussen waar ek vandaan kom en waarheen ek op pad is.

“Nou kyk mooi, sien jy daar naby die grond is ‘n sport tussen die twee stutte? Dit is die eerste van die vier sporte. Dáái sport is die anker van die hele leer, dit hou die twee stutte bymekaar. Vergeet nooit waar jy vandaan kom nie. Jou herkoms kan lyk soos hy wil, net so min soos jy van hom ontslae kan raak, net so min kan ‘n ander dit van jou wegneem of jou dit ontsê. So, jy kan net sowel seker maak dat jy dit met trots koester, want dis JOU LEWE se BEGINPUNT. Vat hóm weg en jou leer val uitmekaar uit.

“Ná daai sport, sien jy die kepe in die stutte – daar waar nou geen sporte is nie – kepe tot reg bo? Sien jy dan so ‘n ent boontoe die drie sporte wat direk op mekaar volg? Die enigste sporte wat in die leer is? Mmm, want dis al wat ek nodig het: die sport waar ek was; die sport waar ek is; die volgende sport waarop ek moet trap op pad boontoe. En hulle bly in die leer: wat was, wat is, wat wag.

“Nou, die kuns is om met daai drie sporte te wérk as jy iewers wil kom. Die sekerste manier om jouself in ‘n penarie te bevind, is om op die boonste van die sporte te staan en dán te probeer om die onderste van die drie uit te haal en hom bokant jou te sit. Dis ‘n buig wat ‘n man nie maklik buig nie. Máár as jy nou op die middelste sport staan en die een direk bokant hom in die oog hou en versigtig afbuk en die een direk onder jou uithaal; en dán rek en hom bokant die een bokant jou sit; dan het jy twee sporte bokant jou en jy staan nie meer op die middelste een nie, maar op die onderste een – dan kan jy maklik nog ‘n tree klim. Natuurlik hou jy aan om die proses te herhaal. Sport vir sport. So word jou vandag gister met nog ‘n môre wat bykom en jy klim uit elke gister in vandag in op pad na môre. Jy loop nie die lewe vooruit nie en jy val ook nie vas in die verlede nie.

“En wanneer jy nodig het om te rus, dan rus jy terwyl jy jouself op die middelste een bevind met een sport direk onder jou en een sport direk bokant jou. Sodoende kan jy sit met jou voete rustend op die onderste een en jou rug gestut teen die boonste sport. Jy vertoef in vandag, stewig geanker in gister en gestut deur môre.”

Op my vraag oor die stutte, antwoord oom Klaas: “Anderdag se gesels.”

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa