’n Nuwe jaar, dieselfde uitsigloosheid
My gemeenskap het die koms van die nuwe jaar met Babelse lawaai ingelui. Vuurwerke het ’n donker hemelruim verlig aangehelp deur loeiende ambulanse en n konvooi motors deur die strate.
Die Kersseisoen was 'n stiller affere. Skrapse spaargeldjies is versigtig aangewend en daar was minder entoesiasme vir die tradisionele uittog na Port Alfred en Visriviermond.
Sommige ouers het bekommerd gewag op die matriekuitslae en stil gebid vir hul kinders.
Op die oog af was daar rus en vrede. Harmonie het geheers. Of so wou dit voorkom. Nou reen die werklikheid op ons neer en humeure ontvlam.
Vir die gematrikuleerdes is dit ’n nagmerrie. Hulle moet ’n loopbaan kies in 'n toestand van min werkgeleenthede. Sommige word gedwing om hul drome prys te gee. Hulle moet dringend werk soek om die swaarkry te verlig.
Dit plaas geweldige druk op jongelinge wat nog verwonderd en vol ideale die nuwe lewe instap.
Hulle droom van n blink toekoms. Ons almal het ged- room en gewens en gehunker na sukses.
Ouers en vriende moet simpatieke bystand gee, raad gee, versigtig en met liefde lei.
So dikwels knak ons jeugdiges onder onredelike druk van ouers. Die uiteinde is ’n gevoel van “ek is n mislukking”.
Die uiteinde kan rampspoedig wees, want die jong kind is grotendeels emosioneel nog nie volwasse nie.
Insidente uit ons onmiddellike verlede van moedelose jeugdiges wat hul lewens kortgeknip het, moet ons optrede help bepaal.