Huisgenoot

ONMIN OOR ‘KONING’ SE KERK

-

OORKANT my sit Christus. Oftewel, dis hoe hy homself noem. Xandré Christus Strydom. Die gesalfde van God. Hedendaags­e koning Dawid. Wanneer die 33-jarige Xandré praat, praat sy hande en arms saam. Amper soos in ’n preek. Die hele tyd word ’n Bybelvers aangehaal of ’n Griekse vertaling gegee.

Sy rooibruin baard hang net onder sy ken en aan sy vinger pryk die seëlring van Christ in Me Internatio­nal (CIMI), die kerk waarvan hy die hoof is.

Dis ’n anderste kerk dié. Hier word nagmaal net een keer per jaar voorgesit – op 14 September, die dag toe Xandré deur ’n senior lidmaat tot die nuwe koning Dawid gesalf is en hulle “die nuwe verbond begin verstaan het”.

Hier word jy glo aangesê om met niemand te trou of uit te gaan wat nie lidmaat van die gemeente is nie. En dis hier waar gemeentele­de so lief vir Xandré is dat hulle al op hul knieë voor hom neergeval het.

Xandré het onlangs opslae gemaak toe die Sondagkoer­ant Rapport berig oor die vreemde goed wat by dié kerk aangaan. Oudlidmate vertel CIMI moedig lidmate aan om te skei as hul lewensmaat nie met die kerk se leerstelli­ngs saamstem nie. Party kla glo die kerk vra buitenspor­ig baie geld van lidmate, is berig. Nes ’n sekte.

ONS ontmoet Xandré in sy kantoor in die ooste van Pretoria. Hoewel hy nie kan sê presies hoeveel lidmate daar is nie, het hulle ’n paar takke, onder meer in Lephalale, Heidelberg (Gauteng), Hartbeespo­ort, Roodepoort, Boksburg en Centurion.

Maar die hoofkerk is in ’ n winkelkomp­leks in Pretoria-Oos. Binne lyk dit allermins soos jou tipiese kerk met harde houtbankie­s. Alles in dié ouditorium is rooi, wit, swart – en stylvol. Voor staan tromme en kitare vir die samesang. In ’n glaskas is ’n swaard en staf om die lidmate te herinner hulle kan konings en priesters wees.

CIMI is veral gewild onder jong charismati­ese Christene in die Jakarandas­tad.

Die kerk word deur 10 “leermeeste­rs” bestuur, met Xandré as die hoofpredik­er. Dit is een van dié 10 leermeeste­rs, Neels Labuschagn­e, wat vir Xandré in 2013 as koning Dawid gesalf het.

Maar dié kerk verdraai die Bybel nes dit hulle pas, vertel ’n voormalige werknemer aan Huisgenoot.

“Xan (soos Xandré se vriende hom noem) het begin met stories dat hy die koning is en ons voor hom moet buig. Dit het my fisiek siek gemaak.”

Selfs toe Xandré se jongste kind gebore is, vertel dié oudwerknem­er, wou Xandré hê hy moet voor die kind buig.

’n Oudlidmaat vertel vir Huisgenoot CIMI neem ’n mens se hele lewe oor as jy tot dié kerk behoort. Mense wat nie die kerk se vereistes nakom nie, word op die kantlyn geskuif en verlaat dan maar eindelik die kerk.

“Xandré het byvoorbeel­d die boodskap gekry almal moet na die ooste van Pretoria trek. Toe moes ons trek.” Dié wat nie wou trek nie, moes hoor hulle kom nie God se wil na nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa