Huisgenoot

’N KWESSIE VAN INSIG

Die knellende droogte kan ’n moedelose boervrou perspektie­f laat verloor

- Deur MORYN HANZEN Illustrasi­e: THEA THERON

R53,74! Byna laat val Jolene die sakkie met die vier patats op die winkelvloe­r. Toe sy opkyk, sien sy die medelye in die vrou agter die skaal se oë. Genugtig, Peet sal maar net sy lus vir soetpatats moet sluk. Sy knik ’n geskokte “dankie” in die klerk se rigting voor sy wegstap.

Voor die rak wat vol is van dié pers lekkertes, skeur sy die sakkie oop en gooi die patats terug tussen die ander; glimlag verskonend op na ’n klant wat haar met ’n frons dophou.

Jolene kyk weer na haar inkopielys­ie. Drie keer oorgeskryf; vier keer verkort. Goed, dan is dit maar mengelslaa­i by die braaivleis. Sy stel haar die bord voor terwyl sy blaarslaai en seldery in die waentjie pak. Ja, dit sal maar as troosprys saam met die roosterkoe­ke as ’n bykos moet dien.

Met Peet se bruin oë wat soos dié van ’n kind ophelder wanneer sy ’n lekker bord kos voor hom neersit, tel sy ’n pakkie advokado’s op. Wat? Vier in ’n pakkie teen R74,99! Dit moet tog seker ’n fout wees. ’n Oomblik lank oorweeg sy dit om uit te vind of die prys reg is, maar laat vaar dan die gedagte.

Sy kyk rond. Wie het almal gesien hoe sy dit optel en verbleek? wonder sy. Die waentjie se wieletjies kiere-kiere-kiere vinnig uit die groente-en-vrugte-afdeling; stadiger verby die vleisrak. “Dankie tog dis die een ding wat jy nie hoef te koop nie, Jolene,” fluister-praat sy oudergewoo­nte met haarself.

“Ekskuus, hartjie?” Die tante blaai deur die pakke vleis, die hoop duidelik op haar gesig dat sy sal afkom op ’n paar skaaptjopp­ies wat nie met die prys van goud meeding nie.

“Nee, sommer niks, Tante,” antwoord sy, haar oë op die pakkie maalvleis in die bejaarde vrou se mandjie.

Volgende op haar lysie is jellie. ’n Paar pakkies word in die waentjie gepak. Die koek vir die koekstruif is reeds gebak en sy het nog van die neute wat haar skoonma vir hulle gebring het. Room is ook nie ’n probleem nie; Blommetjie se melkproduk­sie is nog goed. Buig of bars, droogte of voorspoed, Peet sal sy gunsteling­nagereg môreaand ná sy verjaardag­maal kry.

Hoe het die droogte nie almal in sy wurggreep nie, dink Jolene weer voor die koue rakke van die kaasafdeli­ng, haar persoonlik­e swakheid. ’n Dunnerige skyf beland in haar waentjie.

In die skoonheids­afdeling vergaap sy haar aan die sjampoepry­se. Sy koop gewoonlik net een keer per kwartaal ’n groot bottel. Die vorige aand het sy die laaste bietjie uitgeskud; daar is dus geen uitkomkans nie. Onwillig loer sy na die billiker handelsmer­ke. Nee, dis onmoontlik! ’n Jong meisie strek voor haar verby, neem een van die heel duurste soorte en stap met ’n wipstappie weg.

Die meisie sluit aan by ’n deftige vrou wat nie twee maal kyk wat haar dogter in die oorvol waentjie laai nie. Maar dis mos . . . Ja, dis sowaar Annie wat 15 jaar gelede ook by die koöperasie gewerk het. So deftig het sy haar nog nooit gesien nie.

Die droogte raak duidelik nie almal nie. Dan val dit Jolene by: Annie het mos later met daardie gladdemond­prokureur uitgegaan; altyd gespog dat sy ’n goeie toekomsvis­ie het.

Vinnig doen sy die som terwyl sy hoop Annie sien haar nie raak nie. Ja, as sy die afslagkoep­ons indien – iets wat sy nog altyd verpes het om te doen – en sy ruil haar lojaliteit­spunte in, sal sy sjampoe van haar keuse kan inlaai. Sy vat-vat aan haar hare, wat drie maande laas die binnekant van ’n salon gesien het.

Ag verdeksels, daar kyk Annie in haar rigting. Hoekom het sy nie maar vanoggend voor sy van die plaas af weg is meer moeite met haar voorkoms gedoen nie? Verleë loer Jolene vinnig af na haar katoenbloe­s, jeans en insteeksko­ene.

“Maar my tyd, ek ken jou mos!” hoor sy Annie se naderende stem. Jolene kyk heen en weer, gee voor sy dink die vrou praat met iemand anders in die hoop dat Annie kan dink sy het haar moontlik misgis. Maar sy trippel op haar duur hakskoene nader, haar gewaad swewend agter haar aan en die rooigeverf­de mond in ’n breë glimlag.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa