VAN BREDA’S, ONS KEN JUL PYN
Familie van die Lotter-kinders en Don Steenkamp vertel hoe verskeurend dit is wanneer die vermoordes én die beskuldigdes jou eie bloed is
KAN enigiets erger wees as die skok wat ’n familie beleef wanneer een of meer van hul naasbestaandes vermoor word? Ja, sê dié wat weet. Daar is ook die veel erger hel wanneer jy uitvind dit was ’n geliefde broer, dogter of neef wat jou bloedfamilie uitgewis het. Party familielede van die 21-jarige Henri van Breda moes die Maandag voor Jeugdag nes almal anders op sosiale media of van joernaliste uitvind die “lieflingseun” met die skamerige glimlag en ligte krul in sy blonde hare het hom aan die polisie oorgegee.
Teen druktyd sou hy teregstaan op drie aanklagte van moord – op sy ouers, Martin (54) en Teresa (55), en ouer broer, Rudi (22), wat in die vroeë oggendure van Dinsdag 27 Januarie verlede jaar in hul huis op die De Zalze-gholflandgoed by Stellenbosch met ’n byl doodgekap is. Boonop sal hy waarskynlik ook teregstaan op ’n aanklag van poging tot moord vir die aanval op sy suster, Marli (16), wat die treurspel wonderbaarlik oorleef het.
Maar wat sê die familielede van veroordeelde gesinsmoordenaars? Hoe voel dit wanneer jy uitvind die slagoffers én die moordenaar is jou eie bloed?
“Dit skeur ’n familie uitmekaar,” vertel Belinda van der Merwe, skoonsuster van Riekie Lotter (53). Haar en haar man, Johan (ook 53), se eie kinders, Nicolette (toe 26) en Hardus (toe 21), het hulle in 2008 vermoor.
Dit was ’n bloedstollend wrede moord. Riekie se twee kinders het haar geskok en geslaan; hulle het probeer om haar te versmoor en lugborrels in haar are te spuit. Eindelik het hulle haar met ’n mes doodgesteek en Johan met ’n koord verwurg.
Belinda het die seldsame besluit geneem om die Lotter-kinders by te staan omdat hulle steeds naasbestaandes is; daarvoor kruisig van hul ander familielede haar, vertel sy. Sommige wil nou niks met haar te doen hê nie.
Sy vertel Henri se inhegtenisneming het vir hulle weer baie ou wonde oopgekrap. “Die herinnerings gaan nooit weg nie. Ek voel baie jammer vir daardie familie.”
Sy kan net dink hoe hulle moet voel. “Dit plaas die familie in ’n hartseer situasie. Hulle het die seun (Henri) lief en sal hom moontlik ondersteun. Al word hy van sulke walglike dade beskuldig,