Huisgenoot

EEN, TWEE, DRIE, WIE IS WIE?

DNS-toetse het bewys dié drieling is identies, iets wat bitter selde gebeur

- Saamgestel deur SASKIA HILL

OM TE hoor jy verwag ’n drieling is reeds ’ n skok. Blyk dit boonop jou drieling is identies, kan jy maar weet dit is byna uniek, een uit sowat 200 miljoen. Nadat ander ma’s ál meer vir Becki-Jo Allen (23) van Liverpool in Engeland vertel het haar drie seuns lyk darem baie eenders, het sy besluit om DNS-toetse te laat doen. Nou het dié ma uitgevind klein Roman, Rocco en Rohan is inderdaad identies.

Sy was net nege weke swanger toe sy vasstel sy verwag nie een nie, maar drie babas. “Ek was baie siek, het ’n hewige hoofpyn gehad en is dokter toe. Dit was die grootste skok van my lewe toe ek hoor ek gaan ’n drieling hê,” vertel sy.

Nie sy of pa Liam Tierney (28) het dit verwag nie, want nie een van hulle het drielinge in hul familie nie. Maar die drie se ousus, Indiana (3), is in die wolke, want sy speel alte lekker pop.

DIE 10 maande oue drieling is nege weke te vroeg met ’n keisersnee in die lewe gebring en het hul eerste ses weke in die hospitaal se waakeenhei­d deurgebrin­g. Rocco het by geboorte 1,5 kg geweeg, Roman 1,6 kg en Rohan 1,4 kg, sê BeckiJo. Voltermynb­abas weeg gewoonlik sowat 3,5 kg. Ten spyte daarvan dat hulle vroeg gebore is en so min weeg, haal die drietjies al hul mylpale, sê hul trotse ma.

Dit was aanvanklik nogal moeilik om hulle uitmekaar te ken, erken sy, maar sy het hulle leer onderskei.

“Al drie het ’n donker geboortevl­ek tussen hul wenkbroue, maar Roman s’n is ietwat donkerder en Rohan het ook ’n geboortevl­ek aan sy been.”

Sy erken wel hulle lyk identies terwyl hulle slaap.

By geboorte was die dokters seker hulle is nie identies nie, maar toe ander mense die drieling nie van mekaar kon onderskei nie, het Becki-Jo by die Britse Sti Stigtingti vir iM Meerlingge­boortesli b t aangeklop. Hulle het DNS-toetse aanbeveel.

Sy het daarna met deppers monsters van die binnekant van haar babas se wange geneem en dit weggestuur. Toe die uitslag kom dat hulle identies is, was sy verras. “Ek het dit nie verwag nie, maar ek moes dit seker gedink het, want net ek kan hulle uit mekaar ken.”

’n Identiese drieling ontstaan wanneer die bevrugte eiersellet­jie nie net een keer nie, maar twee keer verdeel.

Op 10 maande is die spannetjie al lekker woelig en is daar selde ’n stil oomblik in die huis. Elkeen se persoonlik­heid word ook ál duideliker, sê Becki-Jo.

“Rohan is die raserige een. Rocco is taamlik ontspanne, hoewel hy ’n vurige kant het, en Roman kla gewoonlik hy wil nie deel nie.”

Die seuns kruip gedurig almal na dieselfde speelding sodat die ander boeties dit nie in die hande kan kry nie, vertel sy.

“Indiana is mal oor hulle; sy’s geensins jaloers nie. Maar ek voel jammer vir haar dat sy met drie jonger boeties moet grootword,” sê Becki-Jo laggend.

Die drieling draf weekliks sowat 130 doeke en vier pakkies afveelappi­es kaf. ’n Pak formulemel­k hou twee dae en die wasmasjien werk drie keer per dag.

Liam woon nie saam met Becki-Jo en die kinders nie, maar Becki-Jo se jonger sussie, Lauren (17), help meestal met die daaglikse take.

Voor dié ma van vier met haar eersteling swanger geraak het, het sy daarvan gedroom om ’n neonatale verpleegst­er te word (iemand wat met siek pasgeboren­es werk) en sy was nog nooit so vasbeslote om dié wens te bewaarheid as juis nou nie.

“Ek’s net so bly die seuns vorder goed,” sê sy. “En hoe meer hul persoonlik­heid ontluik, hoe beter sal ander mense hulle ook uit mekaar kan ken.” BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, LIVERPOOLE­CHO.CO.UK, MIRROR. CO.UK

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa