DIE TROFEEJAGTER
’n Jagter maak trofeë bymekaar om te wys hoe suksesvol hy op die jagveld was, of dit bokke of ’n beeldskone vrou is
SY STAAN in my arms, hier in die verlate boshut op Bospoort, haar man, Gert, se wildplaas. Waar ons mekaar nou al ’n jaar lank skelmpies ontmoet. Dit het as pret begin en dis wat dit gebly het. Pret, reg onder Gert se neus. Goeie ou Gert, oud genoeg om haar pa te wees. Dis nou as ’n lywige ou bleskop ooit ’n beeldskone dogter soos Veronica sou kon gehad het.
Veronica, opwindend en sprankelend. En eerlik, want van meet af het sy gewaarsku ons verhouding gaan nêrens heen nie. Sy doen dit vir afleiding en haar huwelik met skatryk Gert sou sy nie in die gedrang bring nie, kant en klaar. Buitendien, voeg sy soms nostalgies by, as daar nou een man is wat haar onvoorwaardelik bemin, is dit einste Gert.
Maar risiko was vir haar deel van die pret, het ek geweet. ’n Dun grensdraad waarop sy geloop het: sekuriteit en liefde aan die een kant; opwinding aan die ander. ’n Vrou met ’n verlede wat sy nooit in detail sal oorvertel nie, nie eens aan ’n oopkop skrywer soos ek nie.
’n Uur later is ons samesyn verby en Veronica fluister in my oor: “Versigtig net, Erik. Maak seker niemand sien jou nie, oukei?”
Ek knik, swaai in die saal op Satan se rug en kyk af in my minnares se oë. “Môre laatmiddag? Weer hier?”
Sy knik en ek kry koers na die buurplaas, waar ek ’n kothuis huur, met ’n voorgevoel dat iets nie pluis is nie, asof ek en Satan van iewers uit die soetdoringbome beloer word. IE volgende oggend kry ek onverwags ’n uitnodiging Bospoort toe deur einste Gert. Ek nader die paleisagtige opstal huiwerig. Ons is wel bure, maar ek en Gert kuier nie oor en weer nie.
Die man wat my op die voorstoep in- wag, is die vriendelikheid self. Ons sit in die reuse-leefkamer, elkeen met ’n beker boeretroos.
Ek bekyk die grasdak met die hoë nok en die klipmuur waarteen hordes trofeë gemonteer is: koppe van talle bokspesies, ’n renoster met ’n yslike horing, twee leeus, ’n luiperd, ’n buffel met weglêhorings en in die verste hoek, ’n grynsende hiëna. Koppe met glinsterende glasoë, al turend in die niet, behalwe die luiperd: Dis asof die dooie oë myne gevange hou.
Ek ril en wonder waar Veronica is. Asof hy gedagtes lees, verduidelik my gasheer dat sy vroulief oorgery het boshut toe en nog nie terug is nie.
“Nou, Erik, ek het ’n proposisie vir jou. Soos jy seker weet, ek is dislekties en kan skaars twee letters ná mekaar skryf of lees. Tog, glo dit as jy wil, het ek van kleins af begeer om skrywer te wees, soos jy; daarom is jy vanoggend hier. Ek wil vra of jy ’n verhaal namens my wil skryf?