Huisgenoot

SOOS BLITS: KAKE VAN DIE DOOD

-

OP ’N tipies bedompige someraand by die wêreldbeke­nde Disney World in die Amerikaans­e deelstaat Florida kry ’n tweejarige knapie lus om in die water van ’n mensgemaak­te meer te plas. Klein Lane is met vakansie saam met sy ouers, Matt en Melissa Graves, en sy vierjarige ousus, Ella. By die weelderige hotel waarin die gesin van Elkhorn, Nebraska, tuisgaan, is dit fliekaand en die gaste kom op die terrein bymekaar vir die buitelugve­rtoning. Om hul kroos besig te hou, slaan die ouers sowat 30 m van die oewer vir hulle ’n speelhok op. Toe Lane wil gaan lyf natmaak, stap sy ma saam met hom water toe.

Maar toe speel ’n gru-toneel so reg uit ’n riller af toe ’n ongeveer 2 m lange alligator uit die dieptes van die meer opduik. Die een oomblik staan die seuntjie nog minder as 3 m van die oewer in enkeldiep water, en die volgende kry die gedierte die kind in sy kragtige kake beet. Binne ’n minuut verdwyn die kind en die reptiel onder die water.

Matt (42), ’n hoofdatabe­ampte by ’n IT- ondernemin­g, hardloop by die water in om sy seun te red. Hy probeer Lane van die alligator wegtrek, maar dis vergeefs. In die verwoede stryd doen hy snymerke aan sy arm op.

’n Soektog word dadelik op tou gesit, maar 15 uur later afgelas. “Daar was geen hoop om die seun lewend te kry nie,” sê die plaaslike sheriff, Jerry Demmings. Die volgende dag kry duikers Lane se lyk in een stuk op die bodem van die meer.

“In die meeste gevalle sal alligators nie dadelik hul prooi insluk nie, maar dit onder die water intrek om dit te laat verdrink,” het Robert Reisz, ’n biologiepr­ofessor aan die Universite­it van Toronto, aan CNN gesê. Alligators bêre dikwels hul prooi in ’n lêplek onder die water en vreet dit eers wanneer die vleis begin verrot. “Dit is normale roofgedrag,” het Robert gesê. “In dié geval was die prooi net toevallig ’n kind.”

Dit is die eerste keer in Disney World se 45-jarige bestaan dat iemand daar alligatorp­rooi is. Alle aktiwiteit­e is intussen verbied op die mere en strome wat deur die pretpark kronkel.

Die park se bestuur word nou daarvoor verkwalik dat hulle nie gaste van die Grand Floridian-hotel teen die alligators gewaarsku het nie. Dit is die duurste verblyf by die oord – kamers kos meer as R8 500 per nag.

By die meer waar die alligator Lane gevang het, is daar wel duidelike kennisgewi­ngs dat swem verbode is, maar geen woord oor alligators nie – anders as in ’n naburige oord waar besoekers wel teen hulle gewaarsku word.

Matt en Melissa (38) word nie as nalatig beskou nie; Lane het nie geswem nie, maar bloot onder sy ma se wakende oog rondgeplas.

Thomas Scolaro, ’n prokureur van Miami wie se firma voorheen al elders in die staat eise oor alligator-aanvalle behartig het, meen “die feite lyk skrikwekke­nd vir Disney. Al is dit ’n tragedie, kon dit voorkom geword het as Disney nie niksvermoe­dende toeriste aan die genade van gevaarlike diere in sy oord oorgelaat het nie.”

In die hele Florida is alligators volop; daar is sowat 1,4 miljoen van hulle. Hulle kan ook op droë grond vinnig beweeg en beland maklik in mensgemaak­te mere en swembadden­s.

Tydens die soektog na Lane het Disney World se natuurbewa­arders vyf gevang en van kant gemaak. Hulle sal met forensiese metodes probeer vasstel of een van hulle Lane aangeval het.

Maar vir die ouers wat ná die tragedie in die pretpark sonder hul seun moet terugkeer huis toe, bied dit weinig troos.

’n Dag ná Lane se dood het hulle dié verklaring uitgereik: “Ons kan nie die skok en hartseer verwoord wat ons familie weens die verlies van ons seun ervaar nie. Ons is verpletter en vra privaathei­d tydens dié uiters moeilike tyd.” BRONNE: DAILY MAIL, CNN, NEW YORK TIMES, CHRISTIAN.COM

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa