DRAMA IN DIE DUINE
Dis Mentoor en Beeslaar teen die boewe in Karin Brynard se Tuisland
Deur
DIT is tydens een van die Kalahari se rasende Februarie-storms dat Kytie Rooi ’n moord pleeg.” En met dié openingsin pluk Karin Brynard jou aan jou baadjiepante by haar nuwe roman, Tuisland, in.
“Ek het soveel probeerslae gehad, soveel beginslae. Maar toe ek die dag daardie sin neerskryf, toe weet ek: Dís hom, nou gaan die storie werk.”
Haar derde roman speel af in daardie dorre rooiduinwêreld waar kapt. Albertus Beeslaar vir oulaas ’n sakie moet gaan oplos voor hy ’n vet nuwe werk naby sy geliefde in Gauteng aanvaar. Maar daar op die rand van die Kgalagadi-oorgrenspark ruik dit so na rot, dit stink eintlik. Daar’s nie net ’n moordenaar los nie; daar’s diewe ook en leuenaars en mans wat by vroue slaap wat nie hul eie is nie.
Karin het sowat drie jaar aan Tuisland gewerk. Die skryfproses is stil en alleen; nou begin die teenoorgestelde fase waar sy haar boek moet bemark.
“Dis maar vreemd; dis ’n bietjie soos om uitgevang te word terwyl jy Dancing Queen voor die spieël sing, kompleet met ’n haarborsel in jou hand en heupe wat hulself uit potjie ruk.
“Ek’s maar skaam, al lyk dit nie altyd so nie, en dit kos bloedsweet om in die openbaar aangespreek te word oor die werk wat jy doen.”
Sy geniet wel baie die terugvoer wat sy van lesers kry. “Mense wat meer wil weet oor die agtergrond of die karakters en dikwels lekker staaltjies bylas. Of soms ook ontpop as een van die karakters, soos die afgetrede polisiekaptein uit die Vrystaat wat my eenslag bel en sê hy’t pas vir Krismis ’n boek oor homself present gekry: Sy naam is Albertus Beeslaar.”
Na dese gaan daar dalk nog ’n paar mense na vore kom wat sê hulle is in Karin se derde roman. Soos die uiters verkwiklike kol. Koekoes Mentoor.
“Koekoes is ’n terriër-vuurvretertjie en ’n taaikop. Beeslaar noem haar ‘ ’n merrieperd’ en sers. Ghaap praat van die ‘ verskriklike feetjie’. Vir haar het ek die sagste plek, meer as wat ek nog ooit vir enige karakter gehad het. Sy’t wragtig trane getap by my.”
Vir dié karakter moes Karin navorsing doen om agter te kom hoe ’ n vroulike bevelvoerder se kop werk.
“Ek het by kol. Ronel Visagie se sta-