Huisgenoot

MA, MY TRIOMF IS VIR JOU

Althea se kêrel het haar en hul kinders geskiet, maar vir Cantona het uit die hartseer ’n puik toneelpad ontvou

- Deur JACO HOUGH- COETZEE Foto’s: OMKGOPOTSE KOLOTI

TOE Cantona James (18) verlede maand in Bellville aangewys word as die wenner van kykNET se Nasionale Toneelkomp­etisie, het hy sy oë vir ’n oomblik toegemaak en saggies gesê: “Ma, dis vir jou.” Hy het die applous om hom vaagweg gehoor, maar sy gedagtes was by daardie verskrikli­ke oggend in 2012 toe hy sy bebloede ma, halfbroer en -sussie agter in die ambulans sien. ’n Entjie daarvandaa­n het die man met wie sy saamgewoon het, oënskynlik leweloos agter die stuurwiel van sy wit bakkie gesit.

Maar uit al die afgryse en hartseer van die gesinsmoor­d en selfdood het iets goeds tog vir hom gekom. Cantona, van- jaar hoofseun aan die Hoërskool Randfontei­n, was aan die begin van sy gr. 8jaar toe hy dié grusame tonele moes aanskou. Om uiting te gee aan sy emosies, het hy ’n Engelse monoloog geskryf, I Should Have Left. In die monoloog stel hy sy ma aan die woord, en sy beskryf hoe sy aangerand en geskiet word.

Hy het die monoloog by ’n skoolgelee­ntheid voorgedra. Die onderwyser­s het sy talent raakgesien en hom oorreed om dramaklass­e te neem. Van toe af het hy die een skoleprys ná die ander gewen. En met sy onlangse sukses in die kykNET-kompetisie het hy boonop ’n beurs gewen om volgende jaar aan die Universite­it Stellenbos­ch drama te studeer.

Sy ma, weet hy nou, is trots op die pad wat hy die afgelope vier jaar gestap het.

CANTONA was net een jaar oud toe sy ouers, Sydney en Althea James, in 1999 ná ’n huwelik van drie jaar skei. Hy het by sy pa gewoon en sy ma het nie ver van hulle af nie ’n huis betrek. “Omdat ek so klein was, weet ek glad nie hoekom hulle geskei het nie. Ek het later maar aanvaar dis hoe dit werk,” vertel die matriekseu­n. “Hulle het ook nooit daaroor gepraat nie. Wat ek wel kan sê, is dat my ma my beste vriendin was.”

Ons gesels in sy pa se huis in Randfontei­n. Teen ’ n muur in Cantona se slaapkamer hang meer as 60 dramapryse wat hy op skool verwerf het.

Hy was vier jaar oud toe sy ma en Victor Adriaanse mekaar ontmoet en begin

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa