VLIEËRS IN DIE WIND
Wanneer toue losraak, kan ook gevoelens wild wapper
DAAR is wakker skrik en wakker word. Minette Minnie word wakker, want die geluid is vertroud: Chris wat die toilet omstreeks tweeuur spoel ná al die bier en filterkoffie laataand voor sy rekenaar.
Vroegoggend, dink sy slaapverward, sal die Blonde Matroos (dis hoe sy dink aan Erik Walman, bestuurder van die kompleks) haar voordeurklok diengedong en meld die ouerige bure het weer gekla, want in hul stort se uitlaatpyp kan hulle hoor wanneer huise hoër op water gebruik. Dit steur hul slaap. Dan sal Chris met nagstoppels agter haar verskyn en sarkasties opmerk die ontwikkelaars moet blameer word vir die dreineringsflater. Walman sal vra of hy asseblief kan praat met die eienaar van die meenthuis, te wete juf. Minnie, sonder inmenging van buitestanders.
Die halfbewuste gedagtes rol soos ’n sepiarolprent deur haar kop. Dan eers kom die skrik, en Minette veer orent in die kamer waar die leë helfte van die dubbelbed spokerig opskemer. Want Chris het ’n ewigheid laas hier oorgeslaap. Hulle het uiteengegaan op die Brussel-lughawe, waar hul woede teenoor mekaar ontplof het, op kleinmenslike skaal net so vernietigend soos die bloedbadbomme.
Nou, in die diepte van die nag (en sy kan raai dis tweeuur), het die toilet gespoel. Haar eerste bewuste gevoel is vreugde: Hy is terug en het met sy eie stel sleutels ingekom. Hy gaan nou-nou in die halflig verskyn, klere afstroop, langs haar inkruip met sy altyd warm lyf, sy arm om haar sit, haar na hom toe omdraai . . .
Sy sal sy bitter laaste woorde uit haar geheue vee, daar in die intense chaos van lughawesekuriteit: “Ek glo nie my ek- sakte brein kan langer met jou wolkop genoeë neem nie. Om ’n kunstenaar te wees gee jou nie die reg om . . .”
En so het hy voortgevaar, tot sy haar regop getrek het: “Hierdie lughawe het gebloei, Chris, die land het gebloei, net vier dae gelede, terwyl jy in die Kaap Verdiese Eilande. Nou kan jou ‘eksakte brein’ nie aanvaar dat ons nie die motor kan kry nie.”
“Omdat jy nie bewys van eienaarskap van jou broer in Duitsland af gebring het nie. Waar was jou verstand?” Toornig, sonbruin. “Sou jy altemit die bloeiendes met jou sketsboekie kon red?”
“Ek sal alleen regkom. Vat jou goed en gee pad uit my lewe, Chris Collins. Onthou jou vlieërs. Ek het dit lank genoeg opgepas.”
Die ewige vlieërs wat hom eers oor die windstilte laat kla het, toe oor die sterk wind waarvoor albei te groot was. En dit