Huisgenoot

DOK, VERLAAG MY HAARLYN!

Haar groot voorkop het haar hoofbreken­s besorg. Nadat sy onder die mes was, is sy weer vol selfvertro­ue

- Deur MIEKE VLOK

DIT het altyd gevoel of ’n reusekolli­g helder op haar voorkop skyn, en dit het haar selfvertro­ue geknou. Terwyl baie vroue hulle verknies oor hul borste wat te groot of klein na hul smaak is, die vet om hul heupe of hul dun lippe, het Stella Malan* van Kaapstad se groot voorkop haar gepla.

“Dit was nog altyd ’n deel van my waarmee ek nie gemaklik was nie,” vertel die fyngeboude webtuisteo­ntwerper. “My groot voorkop het my nogal manlik laat voel – en dis nie hoe ’n jong vrou wil voel nie. Dit het die manier oorheers waarop ek my hare dra. ’n Mens voel boonop simpel om hardop te erken jou voorkop maak jou ongelukkig.”

Stella (33) is duidelik nie die enigste vrou wat so voel nie. ’n Voorkopver­kleiningso­perasie word al geruime tyd in die buiteland gedoen, maar is nog taamlik nuut in Suid-Afrika, sê dr. Ryan Jankelowit­z van die Medhair-kliniek in Kaapstad, waar sulke operasies onder meer uitgevoer word.

Omdat die hersteltyd­perk baie kort is – pasiënte kan binne drie tot sewe dae terugkeer werk toe – en ’n mens onmiddelli­k resultate kan sien, raak hierdie operasie ál gewilder, veral onder vroue.

“’n Hoër voorkop word dikwels as manlik gesien omdat mans meer dikwels haarverlie­s het,” verduideli­k Ryan. Daarby kan ’n voorkopver­kleiningso­perasie nutteloos wees vir ’n man as hy later sou bles raak.

Maar die meeste vroue hoef hulle nie te bekommer dat hul haarlyn hoër sal klim namate hulle ouer word nie.

Vir vroue kan so ’n operasie die einde beteken van ’n gesukkel met ’n lang kuif of kopbande om hul hoë haarlyn te probeer wegsteek. Stella spog nou met ’n haarlyn wat ’n hele 2,5 cm laer begin as voor haar operasie verlede November. “Dit het my onsekerhei­d laat verdwyn. Wanneer ek mense ontmoet, voel dit nie meer of ’n kollig op my voorkop skyn nie.”

SY HET die eerste keer van die operasie te wete gekom toe sy op die internet rondsnuffe­l. “Ek het elke artikel op die internet verslind en selfs foto’s van myself op die rekenaar probeer manipuleer om te kyk hoe ek met ’n nuwe haarlyn sal lyk,” vertel Stella.

Die operasie behels dat dokters van agter die regteroor al langs die haarlyn om die voorkop tot agter die linkeroor ’n snit maak. “Ons sny effens terug tot agter die ore. Die kopvel is nou voor los van die skedel en word agtertoe geflap sodat dit uit die pad is,” verduideli­k Ryan. Die kopvel lyk nou byna soos wanneer die deksel van ’n houertjie jogurt halfpad agtertoe gevou word.

Daarna sny dokters ’n strokie vel – die oortollige sentimeter­s – van jou bestaande voorkopvel weg en trek jou losgesnyde kopvel vorentoe. “Ons maak klein kepe onderaan die kopvel sodat dit byna soos ’n konsertina gerek kan word om meer soepel te wees en weer by jou voorkop geheg kan word.”

Dokters heg die los vel met ’n spesiale soort snit genaamd ’n trigofitie­se sluiting aan die voorkop. Dit sorg dat die letsel onopsigtel­ik is en hare daardeur kan groei, verduideli­k dr. Larry Gershowitz,

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa