Huisgenoot

WAYDE SE AFRIGTER, ANS BOTHA

-

Agter die sukses van een van Suid-Afrika se blinkste atletiekst­erre is ’n 73-jarige gryskopvro­u van Bloemfonte­in. “Tannie Ans,’’ noem Wayde van Niekerk sy afrigter.

Ans Botha se naam is skielik wêreldwyd op sportliefh­ebbers se lippe as die oumagrootj­ie – sy het inderdaad vier agterklein­kinders – wat hom na wêreldroem gelei het.

Nee, dis ’n spanpoging, skerm Ans. “Ek is maar net een van ’n klomp mense wat gehelp het dat die regte blokkies in die legkaart pas.’’ Sy rig Wayde die afgelope vier jaar af en hulle oefen elke dag behalwe Sondag. Verskil haar metodes van dié van ander afrigters? “Ek vat langer om eers ’n goeie basis en tegniek by ’n atleet vas te lê, terwyl die moderne neiging is om hom so vinnig moontlik na sy piek te vat. Maar die belangriks­te is, ek laat my kinders toe om hul atletiek te geniet.”

In haar skooldae in die 1940’s in Tsumeb, in die destydse Suidwes-Afrika (nou Namibië), het Ans aan naellope en verspring deelgeneem.

Toe haar kinders, Herma en Wenzel, in die 1960’s op skool was, het sy hulle afgerig ‘’sommerso met metodes wat ek self uitgedink het”.

Eers in 1970 het sy haar eerste atletiekku­rsus in Windhoek gevolg. Die afgelope 25 jaar rig sy atletiek in die Rosestad af.

Maar sy vra geen afrigtings­fooi nie. “Want dan voel dit soos werk, en nie ’n stokperdji­e nie. Elke atleet of sy ouers dra maar by wat hulle kan bekostig.”

En haar beloning dan? Elke keer wanneer sy ’n atleet se gesig sien straal nadat dié ’n hoogtepunt beleef het . . .

– JACO HOUGH-COETZEE

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa