KNAPIES SONDER DEEP HEAT
HY LAAT val sy rugbybal op die vloer en sê: “Ek gaan nog ’n triljoen drieë druk, Oom.” Cordré Herbst kyk na sy ma. “Nè, Mamma? Ek gaan mos.” Sy ma, Elsa, glimlag en stoot hom na die kombuistafel waar sy ontbyt wag: ’n piesang, roosterbrood met heuning en Miloontbytgraan.
Cor, sy pa, tel die bal op. “Toe, eet nou, meneertjie,” sê hy vir die vyfjarige knaap. “Ons is laat.”
Cordré gaan vandag die eerste keer op Loftus Versfeld uitdraf, op die Blou Bul-rugbyunie se jaarlikse Bulletjiedag.
Cor en Elsa, van Clubview, Centurion, is ou vriende van my. Ek en twee kameramanne gaan saam, want ons ry agter rugby aan.
Dis asof iets in ons rugby verlore raak – maar wat? En is dit alles geld se skuld? Is rugby al wat baie Suid-Afrikaanse mans kan laat huil? Hoe ervaar vroue rugby? Is rugby werklik deel van sommige swart mense se kultuur?
Die slaghuis ’n ent straataf het ’n spesiale aanbod: Blou Bul-steaks, slegs R78 per kilo. Die man wat by die vulstasie uit ’n Polo klim se Sharks-ondersteunerstrui sit hopeloos te styf.
In hierdie land is dit moeilik om aan rugby te ontsnap.
Dit is vandag hier op Loftus my eerste kennismaking met bulletjierugby. Cordré speel vir die Laerskool Swartkop se o.6-spannetjie. Daar is ook o.7’s en o.8’s. Die outjies duik mekaar nie: Aan elkeen se broek word ’n lint aan ’n kloustrokie geheg. Pluk ’n teenstander dit af, moet jy die bal uitgee.
Oral stap pa’s en ma’s met ’n rugbyspelertjie aan die hand. Cordré se oupa Willie Janse van Rensburg kan nie vandag hier wees nie. Maar hy was drie Saterdae gelede by toe Cordré sy eerste drie druk en het hom R50 gegee.
Hier is vandag omtrent 6 000 spelertjies – meisiespanne ook – en 25 000 ondersteuners.
Bulletjierugby word dwarsoor die veld gespeel; daarom is Loftus se agt buitevelde in kleiner velde verdeel. ’n Wedstryd duur 20 minute.
’n Mens kyk meer na die skreeuende ouers langs die kantlyn as na die spelertjies. ’n Man kniel voor sy seuntjie: “Luister mooi vir pappa: Hou altyd jou ogies op die bal; dan sal jy hom nie misvang nie. Oukei?”
Dis nou tyd vir Cordré se spannetjie om op te warm. Op laerskool het ons nie regtig opgewarm nie. En ons het eers op 10 begin speel. Ons het wel voor ’n wedstryd Deep Heat aangesmeer.
Rugby sal altyd vir my na Deep Heat en onskuld ruik.
“Raak daai tone!” roep Vincent van Dyk, wat saam met Cor die spannetjie minstens twee keer per week afrig. Cordré en sy maatjies buk af en raak aan hul tone.
Prof. Cilas Wilders, ’n biokinetikus van die Noordwes-universiteit se Potchefstroomkampus, sê kinders word te vroeg aan rugby blootgestel. Ons het ’n verdraaide sportkultuur geskep, met oor- Op Pad met Dana word Donderdae om 21:00 op VIA (kanaal 147) uitgesaai. winning en prestasie die afgode. Hy meen baie kleintjies het nog nie die motoriese vaardighede vir rugby nie; dit kan normale ontwikkeling knou.
Eenkant staan ’n ander spannetjie in ’n kring terwyl hul afrigter bid.
Natuurlik dwing al die ouers vandag hier nie hul kinders om te speel nie. Hulle wil ook nie hê hul kinders moet net wen nie.
Die bulletjierugby leer Cordré dissipline en spanwerk, sê Cor. En dis Saterdae ’n gesinsuitstappie.
In die tweede helfte druk Cordré die bal in die hoekie. Nog R50 van oupa Willie. Hy en die meeste seuntjies hier wil eendag vir die Bokke speel, nes ek wou. Maar hulle kan dalk eendag miljoene verdien.
Geld – is dit nie wat rugby selfs op hierdie vlak al anders maak nie?
Nêrens hier ruik ’n mens vandag Deep Heat nie.