DIE DAG TOE DAWID VIR GOLIAT KLOP
Herleef saam met Dana Snyman ’n goue oomblik in die geskiedenis van Griekwa-rugby – en ontmoet een van van sy kleintyd
HY IS skielik nie seker van die presiese plek waar hy die bal gestel het vir daardie strafskop nie. “Dit moes hier gewees het,” sê oom Peet Smith, en beduie kantlyn toe. “Nee, nee,” sê sy broer, Tos. “Dit was meer na die middel toe.” Oom Peet skud sy kop. “Dit was naby die halflyn. Dis al wat ek weet.”
Dis ’n koue Maandagoggend en oom Peet en oom Tos staan op die doodgerypte gras in die middel van die ou De Beersstadion in Kimberley. Hier waar Griekwas in 1970 die Curriebeker-eindstryd teen Noord-Transvaal gewen het.
Noord-Transvaal het minute voor die einde met 9- 8 voorgeloop. Toe kry Griekwas ’n strafskop. ’n Jong oom Peet, wat vir Griekwas flank gespeel het, was die een wat pale toe moes aanlê. Die skop was oor, en toe die eindfluitjie blaas, was dit 11-9 vir Griekwas. Die laaste keer dat hulle die Curriebeker kon wen. 26 September 1970.
Enige rugbyliefhebber wat vir die geskiedenis omgee, weet van daardie dag. Onlangs het ’n rugbytydskrif dit uitgesonder as een van die 10 grootste oomblikke in die 120 jaar van Curriebekerrugby. Die dag toe die klein Griekwas die magtige Noord-Transvaal verslaan het.
My oorlede pa was daardie dag hier. Ek was sewe jaar oud en ons het gewoon op Daniëlskuil, ’n dorpie so 150 km hiervandaan. James Combrinck, wat daardie dag vir die Griekwas haker gespeel het, was ’n onderwyser by ons skool.
Piet Visagie, die losskakel, was tannie Hester van Niekerk, wat naby ons gewoon het, se kleinneef.
Piet Visagie was my held der helde. Hoeveel foto’s van hom was teen my kamermuur? Baie. Huisgenoot het destyds ’n foto van daardie 1970-span gepubliseer. Ek het dit uitgeknip en ook teen my muur geplak.
Nou staan ek saam met oom Peet en oom Tos hier in die ou De Beers-stadion en kry ’n bietjie hoendervel. Deesdae word hier net sokker gespeel. Griekwas se hoofkwartier het verskuif.
Op 82 kan oom Bushy Oliver, wat die afgelope halfeeu net een of twee Griekwa-wedstryde in Kimberley misgeloop het, daardie 1970-span vir jou uit Op Pad met Dana word Donderdae om 21:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. die kop opnoem. Wanneer die Griekwas in Kimberley speel, sien ’n mens dikwels vir oom Bushy in sy Griekwa-trui, besig om die span aan te moedig.
Uiteraard was oom Bushy by daardie 1970-eindstryd. “Drie van daardie spelers is al oorlede. Besef jy dit?” sê hy. “Piet van Deventer, Jannie van Aswegen en James Combrinck.”
Hy vertel van Popeye de Bruin, wat nou in ’n tehuis vir bejaardes op Bloemhof is.
Oom Popeye se storie is ’n verdrietige een: Hy het daardie hele 1970-seisoen in elke wedstryd vir Griekwas op stut gesak. Toe, net twee dae voor die eindstryd, word sy vrou ernstig siek. Toe kon hy glad nie speel nie.
Dieselfde dag nog ry ek na oom Popeye, wat deesdae in sy kamertjie sit met sy herinnerings, byna nes Blokkies Joubert in David Kramer se liedjie.
Daarna vat ek die pad Parys toe, waar Piet Visagie saam met sy vrou, Carol, afgetree het.
Oom Piet is presies hoe ek gedink het hy sal wees. Stillerig, en selfs op 73 effens teruggetrokke. Hy vertel hoe hy destyds byna 500 km – heen en terug – van Postmasburg af moes ry net vir ’n Griekwaoefening in Kimberley. Alles op sy eie koste. Hy onthou Daniëlskuil en tannie Hester van Niekerk.
Daar by oom Piet en tannie Carol besef ek skielik hoekom so baie van ons aan ons 1970-herinnerings vasklou. Dit was ’n ander era, ’n era toe die rugbykleintjies nog ’n kans gehad het teen die grotes.