Huisgenoot

NUUT IN DIE FLIEKS / DON’T BREATHE

-

Riller. Met Jane Levy en Stephen Lang. Regisseur: Fede Alvarez. 18 GrTG. Begin op 9 September.

Waaroor gaan dit?

Drie jeugdige inbrekers bestudeer die bewegings van mense in ’n agterbuurt noukeurig. So weet hulle presies wanneer om in te breek en hoe om die alarms te deaktiveer. Maar een aand breek hulle by die verkeerde huis in – met gruwelike gevolge.

Wie sal hiervan hou?

Mense wat daarvan hou om te prewel: “Dis net ’n fliek; dis net ’n fliek!” Dis maklik die mees vreesaanja­ende rolprent van die afgelope vyf jaar. Vergeet enigiets wat jy al gesien het; die regisseur trek ’n treksaag oor jou senuwees oop en hou nie op saag tot elke senuweepun­t rou geskaaf of stomp afgesaag is nie. Die spanning raak ondraaglik en ’n mens betrap jou deurgaans dat jy gil en dan prewel: “Dit kan nie moontlik wees nie!”

Daarna probeer jy jouself verseker dat die karakters tog ongeskonde hieruit gaan kom, nes in soveel soortgelyk­e rillers, maar die briljante Fede Alvarez het vrede met jou verwagting­s. Hy gee juis wat jy nie verwag nie.

Boonop speel groot dele van die rolprent in die donker af, maar baie meer doeltreffe­nd as in Lights Out. Moet dus nie ’n enkele cliché verwag nie. Dié is omtrent so skaars soos ’n kilojoule in ’n gimnasium.

Die laaste driekwarti­er is een van die spannendst­es sedert The Texas Chain Saw Massacre of The Shining. Jy sal jou oë nie glo nie. ’n Waarskuwin­g: Hoe minder jy hiervan weet en hoe minder jy daaroor nalees, hoe beter sodat die beste oomblikke nie verklap word nie.

Dit word ten sterkste aanbeveel, maar net vir grillerfoe­ndi’s met senuwees so sterk soos ’n kitaarsnaa­r. Wat werklik hier werk, is die totaal onverwagte kinkels in die rillerkabe­l wat jou sal gru.

Kyk nou of wag vir DVD?

Moenie dit op DVD kyk nie. Jy moet in ’n donker fliekteate­r sit om die gruweldonk­erte te ervaar wat hoogs doeltreffe­nd aangewend word. Wait until Dark, Lights Out.

Die regisseur Fede Alvarez het die gebeure gegrond op sy ervarings in Montevideo, Uruguay.

Sy vorige rolprent was as regisseur van die nuwe weergawe van Evil Dead in 2013. – LEON VAN NIEROP

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa