STRYD OM BEHEER VAN DIE STAATSBEURSIE
Pres. Jacob Zuma probeer ons minister van finansies in die tronk kry. Wat is sy motivering hiervoor – en kan hy slaag?
PRES. JACOB ZUMA is verreweg ons mees uitgeslape politikus. Hy het tot dusver sy afdanking as adjunkpresident, ’n vernederende verkragtingsverhoor (waarin hy onskuldig bevind is), verskeie skandale weens swak regering en powere vertonings by die stembus oorleef.
’n Leidraad tot die rede vir sy oorlewing lê dalk in ’n opmerking vroeër vanjaar by ’n ANC-geleentheid deur een van sy vertrouelinge, Bathabile Dlamini, leier van die ANC-vroueliga en minister van maatskaplike ontwikkeling: “Ons almal het ons klein geraamtes in die kas; ons moet daardie geraamtes egter nie laat uitkom nie, want dan gaan alle hel losbars.”
Zuma weet ongetwyfeld in watter kaste die grootste geraamtes is; dit is wat hom in staat stel om so lank te oorleef te midde van die oorweldigende getuienis dat hy sleg is vir die land en dat die ANC onder sy leiding die kreeftegang gaan.
Sy aanslag op Pravin Gordhan, minister van finansies, en die gepaardgaande pogings om beheer oor die nasionale tesourie te kry kan een veldslag te ver wees.
Daar is nou, in teenstelling met die stand van sake voor die gemors in Desember (toe Nhlanhla Nene as minister van finansies afgedank is), baie groter teenkanting binne die regerende alliansie teen Zuma. Die breë samelewing is ook meer betrokke by die dialoog.
Toe dit bekend word dat Gordhan weer in die Valke se visier is, het die rand binne minute teenoor die vernaamste geldeenhede verswak. ’n Kredietafgradering staar ons ook opnuut in die gesig.
Voeg daarby die ANC se onlangse rampspoedige verkiesingsuitslae, waarin die regerende party beheer oor Pretoria, Johannesburg en Port Elizabeth afgestaan het, en dit is duidelik Zuma se beweegruimte raak min.
ZUMA se motivering vir die aanslag op Gordhan is tweeledig. Soos in Desember met Nene, bly dit ’n poging om beheer oor die tesourie te kry, maar dit is ook ’n manier om sy wankelende gesag af te dwing. Die tesourie is een van ons ligpunte. Dit is sedert 1994 een van die staatsdepartemente wat jaar ná jaar uitstekende werk doen en met die bestes ter wêreld vergelyk. Danksy knap bestuur van ministers soos Trevor Manuel, Nene en Gordhan kon Suid-Afrika grootliks ontslae raak van verlammende staatskuld terwyl streng beheer oor die staatsbeursie uitgeoefen is. Die tesourie kon, tesame met vennote soos die Suid-Afrikaanse Reserwebank en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), help om die land in die eerste 15 jaar ná demokrasiewording op ’n stabiele groeipad te plaas waar staatsgeld met omsigtigheid ingesamel en aan staatsdepartemente uitgedeel is.