Huisgenoot

TOT SIENS, ONS SKOENLAPPE­RKIND

-

PLAASWERKE­R klop laataand aan Lynette en Fanie Fourie se slaapkamer­venster op hul plaas naby Tulbagh in die Kaapse wynlande. “Meneer,” roep hy, “die polisie is hier!”

Fanie (69) spring uit die bed en haas hom na die voordeur. Lynette (67) het pas aan die slaap geraak en druk haar vingers in haar ore, want sy wil nie slegte nuus hoor nie.

Misdaad, dink sy onmiddelli­k. Dalk is daar indringers op die plaas.

Maar dan onthou sy skielik haar jongste dogter, Jeanné (40), was nog nie by die huis toe sy gaan slaap het nie en ’n beklemming kom sit om haar hart. “Ek hoop tog nie dit het iets met Jeanné te doen nie,” dink sy paniekerig.

Kort daarna word die ma van drie se ergste vrees bewaarheid toe sy en Fanie die tyding kry dat Jeanné net twee kilometer van hul plaashuis verongeluk het. Sy was die jonger suster van die voor- malige supermodel Tanya Fourie (44).

Jeanné was baie trots op haar ousus se sukses, maar nooit daardeur geïntimide­er nie, vertel Lynette. “Sy het nooit rondgeloop en gesê ‘ek is Tanya se suster’ nie. Sy was Jeanné. Sy het geweet wie sy is, waar sy vandaan kom en waarheen sy op pad is. En sy was pragtig. Van binne en buite. ”

HIER op die plaas Eikenlaan met sy majestueus­e berge en uitgestrek­te landerye kom familieled­e en vriende die laaste paar dae stuk-stuk aan om met die ouers te simpatisee­r oor hul verlies. Fanie en Lynette boer al sewe jaar hier met saailinge, ’n paar stuks skaap en hoenders. Hulle het dit ook in ’n gasteplaas omskep.

Jeanné het in April verlede jaar by haar ouers kom woon terwyl sy op die gasteplaas Montpellie­r, 8 km daarvandaa­n, as bespreking­sagent en koördineer­der van troues gewerk het.

Die noodlottig­e aand het sy laat gewerk. Ironies genoeg was dit een van die min aande dat sy haar ma nie laat weet het sy gaan laat tuis wees nie. “Ek het besef sy het baie verantwoor­delikhede en ek moet haar los.

“Elke ouer weet dit kan met jou gebeur – daai oproep in die middel van die nag wat jy nie wil hê nie,” sê Lynette en die trane wel in haar oë op. “Dis jou grootste nagmerrie. Dit het vir ons waar geword.”

Hulle weet nie presies hoe laat die ongeluk gebeur het nie, maar Jeanné se horlosie het op 20 voor 10 gaan staan. Hulle vermoed dit was toe dat sy in ’n kop-aankop-botsing met ’n reuse-vragmotor was.

Die wingerdpri­eel waaronder ons sit, is onlangs gesnoei en groot, ronde druppels val kort-kort grond toe. “Die wingerd huil,” merk Fanie op.

Hy praat nie baie nie, maar sê dan: “Dis nie ’n maklike ding dié nie.” Hy sit nog ’n rukkie voor hy opstaan om iewers op die werf te gaan vroetel.

Met hul lang blonde hare en hoë wangbene het Tanya en Jeanné byna soos ’n tweeling gelyk, maar van kleins af het hul persoonlik­hede hemelsbree­d verskil, vertel Lynette.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa