Huisgenoot

BONNIE EN CLIVE

Hy is keelvol vir smerige saketransa­ksies, maar nooit sou Clive kon raai watter rigting sy lewe sou inslaan toe hy sy voet neersit nie

- Deur ANTOINETTE BURGER Illustrasi­e: LOUISA GERRYTS

DIE oggend van 10 Oktober was lank, vervelig en vol roetine. Die latere opdrag het Clive Koekemoer nie opgewerk tot die vlak van geesdrif nie. Hy was nog altyd iemand met ’n senuagtige temperamen­t, en in dié toestand keil sy spysverter­ingskanaal hom op en verduur hy onuitstaan­bare pyn.

Jake Loots lyk soos ’n rot. In die koninkryk waarin hy heers, is hy die koning van die rotte.

Dit is nou ses maande dat Clive by Jake se Tweedehand­se Motorkonin­kryk werksaam is. Hy vermoed alles is nie pluis met Jake se werketiek nie, maar kan niks daaromtren­t doen nie. Hy het die paar rand wat hy elke maand ontvang te bitter nodig. Dit verskaf ten minste die brood en botter waarop hy oorleef terwyl hy saans in die buitekamer­hokkie by die lendelam tafel sit en 7de Laan en die nuus in Afrikaans getrou op die klein swart-wit skerm volg. Een keer per week koop hy Beeld en bestudeer hy alles oor beskikbare vakatures noukeurig.

Bedags sit hy in die kantoortji­e aan die agterkant van die gebou, vasgekeer tussen spinnerakk­e en dik lae stof, stokou almanakke wiegend aan spykers, verboueree­rd en bevrees om verkwalik te word vir alles wat skeefloop. Hy is nie goed met rekenaars nie en maak gedurig foute met die rekenings.

Clive sit oorkant Jake, verskrik deur die werklikhei­d van die opdrag.

Jake, groot en sweterig met ’ n potloodsno­rretjie en ’n boepens, sit agteroor en grinnik, die ring aan sy vinger ’n swart seer.

“Hoekom moet ek die motors se kilometers terugdraai? Hoekom kan Freddie dit nie doen nie?”

Jake eet ’n oliebol, sy lippe soos twee stukke nat spons terwyl hy kou. Clive kyk weg deur die vliegbespi­kkelde venster na waar blou lug en sonskyn en moontlik opwinding kan wees. Iewers tussen hom en sy uitsig hang ’n groot spinnerak.

“Freddie is vandag in die hof,” sê Jake. “Iets oor agterstall­ige onderhoud. En daar is kopers. Die karre moet vanmiddag uit.”

Druppeltji­es speeksel spat op die lessenaar. Clive sluk. “Dit is oneerlik, Meneer.”

Jake leun terug met ’n snedige uitdruk-

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa