IN DIE PRESIDENSIËLE MIDDEL, CYRIL!
Ramaphosa het sy oog op pres. Zuma se pos, vertel ingeligte politieke spelers vir ons assistentredakteur en politieke ontleder Pieter du Toit
DAAR is geen twyfel nie: Cyril Ramaphosa wil president word. So het een van sy politieke genote gemeen toe hy onlangs oor Suid-Afrika en die ANC se adjunkpresident uitgevra is. Dis ’n vraag wat mense toenemend om braaivleisvure vra: “Waar is Ramaphosa? Wil hy president word?”
“Ramaphosa sal nie daar wees as hy nie lus is vir die boonste gestoeltes nie; hy sal nie vasbyt as hy nie beplan om by pres. Jacob Zuma oor te neem nie,” sê ’n kollega wat Ramaphosa intiem ken.
Ramaphosa het in 2012 op die ANC se Mangaung-konferensie sy terugkeer tot die politiek gemaak, vyf jaar nadat Zuma die destydse president, Thabo Mbeki, om die leierskap van die regerende party verslaan het en 16 jaar nadat hy, kwaad en bitter, die politiek vaarwel toegeroep het.
Hy was in die onderhandelingstyd die goue seun, Nelson Mandela, se gunsteling. As hoof van die Nasionale Unie van Mynwerkers (NUM) het hy sy tande as geharde en vaardige onderhandelaar geslyp. Mynbase sal onthou hoe Ramaphosa die mynbedryf met ’n paar oproepe tot stilstand kon ruk.
Toe hy in 1991 as ANC-sekretarisgeneraal oorneem, is hy ook aangewys as die bevrydingsparty se hoofonderhandelaar. Die verhale oor sy laatnagsessies met Roelf Meyer, hoof-onderhandelaar van die NP-regering, is legendaries.
Die storie loop steeds wyd dat Madiba wou gehad het Ramaphosa moes die presidentskap in 1999 by hom oorneem. Maar ANC-leiers het gemeen die wêreldwyse en slim Mbeki – Oliver Tambo se gunsteling – moes Madiba se adjunk wees; dus is Ramaphosa aan die vooraand van die verkiesing in 1994 uitgeknikker. Hy is ook oor die hoof gesien vir die amp van minister van buitelandse sake. Albei teleurstellings het aan hom geknaag.
Nadat Ramaphosa die Grondwet help skryf het, het hy in 1996 uit die politiek getree en ’n hoogs suksesvolle sakeman geword. Sy maatskappy, Shanduka, het in ’n verskeidenheid maatskappye beleg- gings gehad en hom skatryk gemaak.
Hy het die politiek gelos, maar dit het hom nooit heeltemal gelos nie. Hy het in 1997 op die ANC se nasionale konferensie in Mahikeng die meeste stemme uit die nasionale uitvoerende komitee gekry en die tweede meeste op die Stellenbosse konferensie vyf jaar later. En hy was nie eens aktief by die politiek betrokke nie.
Ramaphosa het ook glad nie betrokke geraak by die nare moddergooiery toe Zuma en Mbeki in die aanloop tot die Polokwane-konferensie in 2007 om die partyleierskap wedywer nie; trouens, hy is in verskillende stadiums as ’n vyand van albei beskou. Mbeki se destydse minister van polisie, Steve Tshwete, het hom en nog twee – Mathews Phosa en Tokyo Sexwale – selfs op televisie daarvan beskuldig dat hulle saamsweer om van Mbeki ontslae te raak.
Shanduka het in die 2000’s gegroei tot een van die land se voorste maatskappye wat belê in ondernemings onder swart beheer. Ramaphosa het in Maart 2011 ook die eienaar geword van die McDonald’s-franchise in Suid-Afrika. Dinge