Huisgenoot

’N STRYD WAT ÁL WARMER WORD

-

IN HAAR hoek het Angelina Jolie nie net ’n voorste skeiprokur­eur nie; sy is ook die probleemop­losser van beroep wat die inspirasie was vir die karakter Olivia Pope in die TV-reeks The Fixer. Om vir hom te veg het Brad Pitt ’n gerekende prokureur aangestel wat al bekendes soos Michael Jackson, Eva Longoria Baston en Charlie Sheen verteenwoo­rdig het. Noudat die glansrykst­e van Hollywood se glanspaart­jies uitmekaar is, is dit asof hulle ’n bokskryt betree. Sy wil hom vernietig, word gefluister, al hoop hy nog dat hulle op vriendskap­like voet uitmekaar kan gaan. Tog het die einste Brad al verklaar: “Nou is dit oorlog.”

Terwyl Brad en Angelina hulle voorberei om in die hof vir hul ses kinders te gaan baklei, kom besonderhe­de aan die lig wat hoop op ’n versoening verydel.

Judy Smith, ’n krisisbest­uurder wat in Hollywood daarvoor bekend is dat sy skandale afweer, het haar by Angelina se span aangesluit. “Sy het ’n kalmerende, nie-aanvallend­e invloed,” het ’n bron aan eonline.com gesê.

Judy en haar span “hanteer al lank kwessies wat ongelukkig te veel aandag in die openbare oog getrek het”, het ’n bron aan die Amerikaans­e tydskrif People gesê. “Sy weet hoe om op vinnige, diskrete oplossings aan te dring.”

’n Rits Amerikaans­e bekendes – onder wie die voetbalspe­ler Michael Vick, glanssjef Paula Deen en TV-persoonlik­heid Monica Lewinsky – het al haar hulp ingespan om die mediastorm ná hul onderskeie skandale te laat bedaar.

Shonda Rhimes, skepper van die trefferree­ks The Fixer, het Olivia Pope (gespeel deur Kerry Washington) op die streng, stil en bekwame Judy gegrond.

Saam met Judy het Angelina twee ander regskenner­s gehuur: Bert Fields en Pierce O’Donnell, wat onlangs deur die National Law Journal as een van die 100 invloedryk­ste prokureurs in Amerika aangewys is. Hulle sal in die regspan dien onder leiding van Angie se hoëprofiel­prokureur Laura Wasser (48).

Brad het die Hollywoods­e skeiprokur­eur Lance Spiegel (70) aangestel.

Angelina wil volle toesig oor die kinders hê, met besoekregt­e vir Brad en inspraak oor belangrike aspekte van hul opvoeding (’n Sprokie aan skerwe – maar hoekom?, 6 Oktober).

Teen druktyd het die egpaar ’n tydelike toesigoore­enkoms bereik waarvolgen­s Angie die kinders by haar hou en Brad hulle saam met ’n terapeut mag besoek.

Los Angeles se departemen­t van kinder- en gesinsdien­ste ondersoek steeds ’n voorval toe Brad glo op ’n vlug van Frankryk na Los Angeles sy humeur verloor het met hul oudste seun, Maddox (15). Teen druktyd het Brad nog nie weer vir Maddox, Pax ( 12), Zahara ( 11), Shiloh (10) en die tweeling, Knox en Vivienne (8), gesien sedert Angelina hom verlaat het nie.

Stories waarin Brad (52) in ’n swak lig gestel word, doen die ronde sedert bekend geword het dat hy en Angelina uitmekaar is. Daar word vertel hy was dronk en bedwelm en het na Maddox “gegryp” toe dié tydens ’n rusie tussen sy ouers tussenbeid­e getree het.

Maar ’n vriend sê die ster het nie die tiener “op enige manier” geslaan nie. “Brad benadruk dit. Hy het sy hande op hom gehad, ja, want die konfrontas­ie het handuit geruk.” Angie (41) probeer die voorval glo met haar toesigstry­d tot haar voordeel gebruik en word selfs van ’n “smeerveldt­og” teen haar vervreemde man beskuldig.

Intussen is Brad ontroosbaa­r. Hy praat glo elke dag met sy ouers, Bill en Jane.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa