HARTE VAN METAAL WAT LEWENS RED
Deur MIEKE VLOK Foto’s:
DEUR die eeue heen het die mens ’n besonderse beheptheid met die hart gehad. Dié orgaan is so belangrik in ons lewe dat ons dit selfs die middelpunt van ons emosies gemaak het: Ons hart is seer, ons hart is bly, ons hart loop oor van die liefde . . . Maar veral is die hart die wonderlike enjin wat die bloed deur ons are pomp en ons aan die lewe hou. Suid-Afrika het ’n trotse geskiedenis wat dié lewensbelangrike orgaan betref. Dit was immers ons eie dr. Chris Barnard wat in 1967 die eerste suksesvolle menslike hartoorplanting gedoen het. Sy baanbrekerswerk het met die jare baie lewens gered, maar daar was altyd een probleem: te min skenkerharte. Hoe nou gemaak? Hier voor ons, op dr. Willie Koen se lessenaar in die Christiaan Barnardgedenkhospitaal in Kaapstad, lê die oplossing: ’n toestelletjie van metaal, kleiner as ’n koekie seep, wat met batterye werk. Dis ’n kunshart. “Ons het te min biologiese skenkerharte in Suid-Afrika. Pasiënte sterf en ons moes ’n oplossing vind,” sê Willie, ’n gesoute en internasionaal gerekende hartchirurg.
“In Suid-Afrika het sowat 500 000 mense ’n hartkwaal. Uit dié halfmiljoen kom net 5 000 vir oorplantings in aanmerking, maar ons het minder as 50 skenkerharte om uit te deel.”
Danksy die Duitse en Amerikaanse navorsers wat dit ontwerp het, kon hierdie klein hart van titaan die afgelope sowat vier jaar reeds 20 pasiënte in Suid-Afrika ’n tweede kans op die lewe gee. Een van die onlangsste ontvangers is Philasande Dladla (10) van Johannesburg. Hy het in Mei vanjaar sy nuwe metaalhart by Willie gekry. Philasande het verlede jaar ’n virus opgedoen wat gelei het tot kardiomiopatie, ’n toestand waar die hartspier verswak en nie behoorlik bloed kan pomp nie. Hy is die eerste kind in Afrika wat een ontvang het, en Willie en sy span is tot dusver die enigstes wat die inplantings plaaslik doen.
“Omdat dit massavervaardig word, hoef pasiënte nie meer te wag op ’n skenkerhart nie en kan meer pasiënte gehelp word,” verduidelik Willie. Die ventrikulêre hulptoestel, of HVAD, soos dokters dit noem, prop by die hart in nes ’n koppelaar of aansluitstuk wat by ’n muur