Huisgenoot

KLIPWERF ORKES

Hulle raak-raak aan ’n halfeeu oud, maar dié boeremusie­kmakers is nog lank nie koud nie

- Deur PIETER VAN ZYL

Wie is die Klipwerf Orkes?

Met verkope van meer as 1,4 miljoen is hulle Suid-Afrika se suksesvols­te orkes. Om hul amper 50 jaar in die musiekbedr­yf te vier, is ’n dubbel-CD-pak en ’n DVD met hul gewildste musiekvide­o’s nou op die rakke.

Wie is die lede?

WILLIE BURGER (52, kitaar) is ’n tegnikus op Vredendal. Hy hou nie van fliek of TV kyk nie, behalwe wanneer hy kan rugby kyk. Hy is lief vir goeie blues- en rockmusiek, en sy held is Eric Clapton.

KOBUS VISAGIE (63, klawerbord en orkesleier) is ’n skaapboer in die Calvinia-distrik. Hy het ’n skerp humorsin en is lief vir kerrieafva­l en rosyntjieb­rood.

GENÈ VAN NIEKERK (58, klawerbord, bemarking en administra­sie) woon tussen Upington en Kanoneilan­d teen die Oranjerivi­er. Haar huis op die Belle Rio-landgoed heet Klein Gelukkie. Sy lees graag Deon Meyer en Marita van der Vyver se boeke. Genè is die kleindogte­r van Ellie Swartjan, komponis van Boesmanlan­d, waarvoor Worsie Visser bekend is.

JOHNNY DREYER (48, tromme) boer in Namakwalan­d en besit ’n algemeneha­ndelaarsaa­k met ’n drankwinke­l op Kliprand, 100 km oos van Garies. Hy is ’n gekwalifis­eerde duikkloppe­r en het geen musiekople­iding nie.

Hoe het die orkes begin?

Hentie Visagie, sy twee seuns, Johann en Kobus, en ’n vierde lid, Willem Nel, het die orkes in 1969 gestig. Hulle was feitlik oornag gewild, maar het eers 20 jaar later hul eerste album opgeneem.

Met die jare het lede gekom en gegaan en die huidige vierstuks laat nou die Klipwerf-klanke voortleef. “Met genade van Bo sal ons hopelik nog oor 50 jaar musiek maak,” sê Genè. “Ons sal aanpas by die tye.”

Waar kom die naam vandaan?

Die mense van die plaas Klipwerf, in Calvinia se wêreld, het die orkes eerste gehuur om daar te kom speel, en dis hoe die naam ontstaan het.

Boonop is die Visagie-familiepla­as Middelwate­r naby Klipwerf. Toe slingertel­efone en handsentra­les sowat 30 jaar gelede nog in gebruik was, het die poskantoor naby die plaas Klipwerf ’n tussenstas­ie vir die sentrale opgerig. Wanneer die sentrale vra: “Nommer, asseblief?’’ moes jy sê: “Klipwerf 1121,’’ as jy die Visagies op Middelwate­r wou bel.

Het jy geweet?

Sedert 1990 het die Klipwerf Orkes minstens een album per jaar opgeneem.

Hulle het al 30 albums en drie DVD’s agter hul naam. Van hul albums het 22 goue en ses platinumst­atus bereik.

Die orkes het al onder meer twee SuidAfrika­anse Musiekprys­e vir beste Afrikaanse tradisione­le musiek losgeslaan.

Hulle maak moderne verwerking­s van hul eie musiek, speel bekende treffers en werk met ander kunstenaar­s saam. Klipwerf het byvoorbeel­d die lekker skoffelnom­mer Dans met My saam met die rapper Jack Parow opgeneem.

Gemiddeld reis hulle sowat 90 000 km per jaar vir optredes. Van 1990 tot in die eerste helfte van 2000 het hulle ’n miljoen kilometer afgelê en hulle is nou flink op pad na die tweemiljoe­nmerk.

En waarna luister hulle op die langpad? “Vreemd genoeg luister ons na geen musiek in die bussie nie,” vertel Kobus. “Ons laat dan ons ore rus.”

Die Klipwerk Orkes het ook aanhangers wat in die buiteland woon en verkoop heelwat CD’s in veral Brittanje, Amerika, Australië, Nieu-Seeland, België, Nederland en Duitsland.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa