DIE TJELLO
’n Donker episode uit die verlede kom spook by ’n vooraanstaande musiekkompetisie
FRANKO trek sy longe behaaglik vol toe hy die konsertkamer van die Pocenko-herehuis agter die huishoudster aan binnestap. Haar wit skoene maak skaars ’n geluid op die gepoleerde vloer, maar sy hakskoene kondig sy aankoms onbeskaamd aan.
Hy lig sy ken toe hy die paar mense sien wat reeds daar is. Hy is net betyds vir die oriënteringsgesprek, maar verkies dit so; dan hoef hy nie met die ander geselsies aan te knoop nie. Olga, die koördineerder se assistent, wil-wil vir hom bekend lyk, maar hy kan nie dink van waar nie. Eers toe sy hul inligtingspakke uitdeel, sien hy twee van haar vingers buig teen ’n vreemde hoek. Nadat die koördineerder hulle verwelkom het, neem Olga oor. Met haar gebreklike hand beduie sy na ’n deur aan haar linkerkant; in haar sterk hand het sy ’n swaar sak. “Daardie deur lei na die slaapvleuel,” sê sy en stap in die teenoorgestelde rigting. Hy kan nie help om te staar nie. Sy wys na die konsertkamer se hoofingang. “Ek sal u op ’n toer deur die res van die huis neem.”
Met ’n hink stap sy voor hulle uit deur die weelderige woning. Destyds het die plek behoort aan Edvardo Pocenko, kunsliefhebber en amateurwetenskaplike met ’n fassinasie met slange. Stories oor die ou man het mitiese afmetings aangeneem. Aanvanklik het dit ’n sensasie veroorsaak toe Edvardo hierheen trek. Kort-kort is ’n geselligheid op sy landgoed gehou, maar gou het onrusbarende skinderstories die ronde begin doen: Gaste het beweer Edvardo het hulle konkoksies ingegee wat hy uit slanggif prakseer het. Omdat oordaad aan die orde van die dag was by sulke geleenthede, kon niks ooit bewys word nie. Tog het niemand later meer die landgoed besoek nie en ná ’n wintervakansie het die huishoudster Edvardo se verrottende lyk in sy studeerkamer aangetref. Weens die potjies wat oral om hom gestaan het, het die speurders aanvaar hy het eindelik sy hand oorspeel met sy troeteldiere se gif.
Daar was nie erfgename nie en bygeloof het belangstellendes afgeskrik. Eindelik het Edvardo se prokureur uit die stad gereël dat die huis in ’n museum omskep word. Elke jaar word ’n konsert gehou ten bate van instandhouding en om die kandidaat te kies aan wie die gesogte Pocenko-wisseltrofee toegeken sal word. Vandat hy van die kompetisie gehoor het, droom Franko daarvan om die goue trofee in sy hande te hou.
Soos vee word hulle deur die res van die huis geneem. Die eetkamer, rookkamer, sonkamer, sitkamer. Aan en aan suis Olga se stem voort oor die meestal etniese kunswerke wat Edvardo versamel het. Toe sy wegtrek met die agtergrond van nog ’n beeld, kan Franko dit nie meer hou nie en glip by die naaste deur in.