MOORD OP SY EIE MENSE
Die Siriese diktator laat ’n afskuwelike arsenaal bomme op die onskuldige inwoners van ’n rebellevesting neerreën
MA’S wat by hul dooie kinders huil, verminkte mense wat uit die puin gesleep word, lyke wat op sypaadjies ophoop . . . Ná vyf jaar van burgeroorlog is die Siriese stad Aleppo ’n lewende hel. ’n Mens kan jou nouliks indink daar is nog iets om te vernietig, maar deurgaans reën die bomme neer op die weerlose inwoners wat soos rotte in die ruïnes leef.
Tog huiwer die wêreldgemeenskap om kragdadig op te tree om die slagting te keer. Iemand wat wel ingegryp het, is pres. Wladimir Poetin van Rusland – aan die kant van die Siriese diktator, pres. Basjar al-Assad. Volgens die Verenigde Nasies (VN) het dié twee leiers “die ergste humanitêre krisis” van die oorlog veroorsaak met hul gesamentlike aanvalle op Aleppo, eens die land se grootste stad.
Aleppo is ’n vesting van die rebelle wat veg om Al-Assad se regime omver te werp. Hy en Poetin is vasbeslote om hulle daar uit te dryf, maar die 300 000 onskuldige burgerlikes in die stad ly die ergste onder die oneindigende lugaanvalle.
Die geskiedkundige stad met sy ou forte en markte is naby die Turkse grens en was eens Sirië se handelsentrum. Nou is dit soos iets uit ’n apokaliptiese rillerfliek, een waarin Al-Assad ’n afskuwelike arsenaal teen sy eie mense inspan: bomme wat gifgasse vrystel, wat vel en been laat smelt, wat brandende wolke veroorsaak . . . dit alles om mense op die gruwelikste wyse te dood en te vermink.
Ban Ki-moon, VN-sekretaris-generaal, het Al-Assad en Poetin vergeefs gewaarsku hulle is skuldig aan oorlogsmisdade.
’n Kenner, Joshua Landis van die Universiteit van Oklahoma, meen intussen Al-Assad sal Aleppo en sy inwoners liewer van die aardbol afvee as om toe te laat dat die stad in rebellehande bly.