Huisgenoot

‘GROENER’ WEIVELDE

Oscar is glo baie beter daaraan toe in die kleiner tronk waar hy hom nou bevind en waar gevangenes meer vryheid geniet

- Deur HILDA VAN DYK

DIE eerste ding wat jy sien, is die groenteboo­rde. Welig lê hulle voor jou in groot groen blokke uitgestrek, met sproeiers wat plek-plek reënboë in die son maak. Aan die einde van ’n pad deur die boorde, so te sê aan die voet van ’n koppie, hurk ’n plat siersteeng­ebou met ’n sinkdak.

Maar hierdie landelike toneel is misleidend. Die sinkdakgeb­ou in die verte huisves die selle van die Atteridgev­ille Korrektiew­e Sentrum – Oscar Pistorius se nuwe tuiste. Dit is hier waar hy die res van sy vonnis van ses jaar vir die moord op die model Reeva Steenkamp gaan uitdien.

“Dit gaan goed met Oscar. Hy is nou op die beste plek waar hy nog was,” sê ’n bron na aan die Pistorius-familie aan Huisgenoot.

Waarom Oscar (30) versoek het om van die Kgosi Mampuru II Korrektiew­e Sentrum in Pretoria se stadsgebie­d oorgeplaas te word na Atteridgev­ille buite die stad, wil niemand tans verklap nie. “Dit is tussen hom (Oscar) en die tronkowerh­eid,” is al wat Singabakho Nxumalo, woordvoerd­er van die departemen­t van korrektiew­e dienste, daaroor wou sê.

Maar almal met wie Huisgenoot gepraat het, stem oor een ding saam: Oscar is nou in ’n “beter” plek. Een rede is dat Atteridgev­ille baie minder gevangenes huisves as Kgosi, waar Oscar die eerste jaar van sy oorspronkl­ike vyfjaarvon­nis geslyt het.

En ’n polisiebea­mpte wat die tronk al verskeie kere besoek het, vertel daar was “nog nooit probleme soos protes deur die gevangenes of ontsnappin­gs nie. Dit is blykbaar ’n ‘lekkerder’ tronk en daar is nie gevangenes wat as gevaarlik beskou word nie,” sê hy.

“Dis soos ’n plaas,” beaam Tanja*, wat al tronkbedie­ning daar gedoen het. As enige gevangene kon kies, sou hy daar wou wees.

NADAT Oscar se vonnis hersien en sy parool opgeskort is, was hy net ’n paar maande terug in Kgosi Mampuru II voor hy vroeg in November na Atteridgev­ille verskuif is. Dié gevangenis word in die weste begrens deur die woonbuurte Atteridgev­ille en Laudium en in die ooste deur die militêre kompleks Thaba Tshwane (voorheen Voortrekke­rhoogte).

Dis nie net die groenteboo­rde wat jou aanvanklik laat dink jy is nie by ’n tronk wanneer jy by die hek langs die R55-hoofweg inry nie. Daar is geen vaal mure met rolle lemmetjies­draad bo-op om die kompleks nie en geen elektriese heining nie. Net ’n groen pallisadeh­eining wat die boorde en tronkgebou omring.

Deur die heining sien jy die woonhuise van Laudium oorkant die R55 en groepe kinders in skooldrag op pad huis toe.

Die tronk en boorde is geleë op grond wat eers deel was van die uitgestrek­te militêre kompleks suid van Pretoria, sê Singabakho. Hier is 1 050 gevangenes – veel minder as die 7 000 tot 8 000 gevaarlike­r misdadiger­s in Kgosi Mampuru II, wat 32 persent oorbevolk is.

In Kgosi het Oscar ’n enkelsel gehad. In Atteridgev­ille is enkelselle sowel as gedeelde selle, maar Singabakho wil “om veiligheid­sredes” nie verklap of Oscar alleen aangehou word nie.

Hier is wel ’n spesiale bad vir die voormalige Paralimpie­se atleet. Volgens Singabakho is dit nie spesifiek vir Oscar ingerig nie; dis al in Mei gedoen ingevolge ’n nasionale opgraderin­gsprojek om geriewe vir gestremde gevangenes in alle tronke te verskaf.

Voor sy vrylating op parool het Huisgenoot berig Oscar het baie gewig verloor omdat hy nie die kos in Kgosi wou eet nie. Hy het toe glo oorleef op onder meer blikkiesko­s wat hy in die tronk se kantien gekoop het (Maer en eensaam in sy swaarkry, 5 Maart 2015).

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa