Wat het verkeerd geloop met Allister?
Sy span het derde in verlede jaar se Wêreldbeker geëindig, maar vir Suid-Afrika se fanatiese rugbygeesdriftiges was dit nie goed genoeg nie. En dis natuurlik die einste toernooi waar Japan ons geskok het deur Bok-soesji te eet. “Vir hom het dit gegaan oor groot, sterk spelers wat met die bal vorentoe kon dryf, eerder as spelers wat die spel voor hulle lees en dan slim keuses maak. Sy agterlynspel was baie konserwatief,” meen Gary.
“Heyneke, met sy ongelooflike sukses as afrigter by die Bulle, het dieselfde kerngroep Bokke (as Peter) gekry. Hulle was toe verby hul beste, maar hy het met hulle volhard,” sê Bokkie.
“Teen hierdie tyd het die All Blacks begin om ál meer die gapings aan te val en hulle het ook hul tempo en kondisionering gelig.
“Heyneke was die slagoffer van sy vrees vir risiko en sy twyfel om te vernuwe. Sy oog vir talent is sy gawe, en om wenrugby te speel. Maar hy het geswig voor die versoeking om veiligheid bo risiko te stel.”
Die oud-Bok en kommentator Ashwin Willemse meen Heyneke was onwillig om te verander terwyl rugby elders ’n evolusie ondergaan het. En hy het bly steun op ’n kerngroep ouerwordende spelers. Hoë verwagtings is vir die hoogs ervare Allister gekoester. Hy was in 2007 ’n hulpafrigter van Jake se seëvierende Wêreldbeker-span en onder hom was die WP en Stormers jare lank uiters mededingend op Curriebeker- en Superrugbyvlak. Hy ken rugbystelsels. “Aanvanklik het dit gelyk of hy die sprong sou maak om te vernuwe – deur die Leeus se sukses die Bokke se sukses te maak, meer in gapings te speel en minder staat te maak op krag en smoorrugby (waar die spel gesmoor en verhoed word om tot ’n volgende fase te vorder),” sê Bokkie. Die Leeus was vanjaar ons Superrugbyvaandeldraer nadat hulle met opwindende waagspel die toernooi se eindstryd gehaal het – en dit nadat hulle vier jaar gelede nog ’n klomp jong, onbekende spelers was. Daar is gesê Allister se Bokke moet soos die Leeus speel – en hy het toe verskeie Leeus-spelers hul Bokdebuut gegee. Maar hul gebrek aan ervaring op toetsvlak het gewys en hulle het ten beste goeie individuele vertonings gelewer. “Verloortoetse het hom onder druk geplaas, in so ’n mate dat hy nou uit sy diepte lyk,” sê Bokkie. “Spelpeil is weer nie ’n maatstaf wanneer span gekies word nie. Ons het dit nou finaal verloor.” Volgens Gary is Allister nooit die kans gegun om sy eie bestuurspan te kies nie en moes hy daarop aangedring het. Hy moes ook gevra het het om minstens ’n jaar, sonder wendruk, gegun te word om ’n nuwe span te bou uit jong spelers met die nodige vaardighede om innoverende en vernuwende rugby te speel. “Nou gaan haal hy uit desperaatheid ou manne soos Bryan Habana oorsee.”
Gary stem saam met Bokkie dat Allister weens die enorme druk om te wen teruggeval het op die ou, uitgediende patroon van groot, sterk spelers wat sonder plan oor hul teenstanders probeer storm.
Ashwin wys daarop dat Allister nie ’n kerngroep spelers kon vestig nie. In die 11 wedstryde vanjaar is die een ná die ander skakelpaar ingespan. “Jou no. 9 en 10 is die belangrikste komponente van enige span; dis hulle wat die wedstryd moet dikteer.” En dis vir Ashwin “skrikwekkend” dat Allister as hoofafrigter met ’n wildvreemde groep hulpafrigters moet werk.
“Hoeveel van 2010, 2011 en 2012 se Junior Springbokspanne se spelers vorm nou ’n nuwe kern van ons toetsgroep? Minder as ses,” sê Bokkie.
In die toets teen Italië was nege Springbokke wat oorsee rugby speel. “Dié spelers speel feitlik 11 maande van die jaar. Dis teen al die beginsels van die sportwetenskap, want dit maak dat die speler uitgeput en swakker gekondisioneer is en beseringsrisiko’s loop,” sê hy.
7 4