Huisgenoot

‘TE SAG OM SO TE MOES STERF’

Vriende vertel van die broeiende onheil voor die lewensmaat van ’n Kroonstads­e vrou vir haar moord in hegtenis geneem is

- Deur JACO HOUGH- COETZEE Foto’s: ROWYN LOMBARD

BEDAGS sou ’ n mens Martha Jordaan (56) dikwels met ’n groot hoed op haar kop in die voortuin aantref, besig om haar blomme te versorg of onkruid uit te trek. Andrew Michaels (58), haar lewensmaat van die afgelope agt jaar, het dan op die stoep sit en koffie drink. Het hulle in die straat verby haar huis geloop, sou sy na die draadheini­ng kom om ’n geselsie aan te knoop, vertel inwoners van die woonbuurt Môrewag op die Vrystaatse dorp Kroonstad. ’n Doodgewone middeljari­ge paartjie.

Op 15 September het sy nog soos altyd by haar heining met Thea Jordaan gesels, maar dis waarskynli­k die laaste keer dat sy so saam met iemand gekuier het.

In die dae daarna was Martha skielik nie meer in haar tuin te sien nie. Net Andrew het rustig met sy lewe aangegaan, asof niks gebeur het nie.

As iemand maar geweet het: Op daai einste erf waar Martha so lekker tuingemaak het, het haar lyk onder die grond begrawe gelê. Sy is in haar eie huis vermoor. En niemand anders nie as haar lewensmaat het skuld erken en die toneel uitgewys.

Nou blyk dit agter die skyn van ’n doodgewone paartjie het onheil gebroei. Andrew was werkloos en het glo die gewoonte gehad om haar pensioenge­ld op perderenne te verwed. En toe, op ’n dag in September, het hy na bewering Martha se tuinvurk opgetel, haar ’n paar keer daarmee gesteek en haar verwurg.

Van dié treurspel het die bure aanvanklik niks geweet nie, want Andrew het doodluiter­s met sy lewe aangegaan. Eers laat Oktober het twee bure, Koos en Joey Kirchner, onraad begin vermoed. Joey wou in daardie tyd ’n paar keer by Andrew weet waar Martha dan is, “maar hy het elke keer ’n ander nonsenssto­rie gehad, soos dat sy nou op ’n gasteplaas by Brandfort (60 km noord van Bloemfonte­in) werk,” vertel sy.

Eindelik het die Kirchners die polisie laat weet iets skort. Toe beamptes die erf opgrawe, het hulle op die gruvonds afgekom. “Martha het maar ’n stil lewe gelei en nie eintlik uitgekom nie,” vertel Thea. “Dis seker dié dat daai man so lank met sy stories kon wegkom.”

Sy sal daardie laaste geselsie van hulle nooit vergeet nie, sê Thea. “Martha het nog gekla oor haar rug en gesê sy sal geopereer moet word.”

Dan vryf sy oor haar oë en skud haar kop. “Nee, man, sy was te sag om so te moet sterf.”

INWONERS vertel Martha het reeds sedert die middel 1980’s in dié huis gewoon; eers saam met haar man, Frans Jordaan, tot hy aan ’n hartaanval oorlede is. Dit is hier waar Susan en Daniël Roux huisvriend­e van die Jordaans geword het. Destyds het hulle gereeld oor en weer gekuier, maar ná Frans se dood het die kuiertjies ál minder geraak.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa