Huisgenoot

DIE KLANK VAN ’N TIKKIE KLAS

Touch of Class, wat deesdae lirieke sing wat dieper sny, het gehore by Afrikaans Is Groot op hul voete gehad

- Deur JANA SMIT

HULLE voel steeds oorweldig deur die reaksie. Stel jou voor: twee mans op die verhoog in die NG gemeente Moreletapa­rk se ouditorium; die beligting somber vir dramatiese effek. Hulle is van kop tot tone in swart geklee, kompleet met swart oogskadu en omlyner. Die laaste woorde van die ou, ietwat donker treffer sterf langsaam weg – en dan is die gehoor juigend op hul voete.

“Ons het glad nie verwag die mense sou so op die liedjie reageer nie,” vertel Deon van der Merwe, een helfte van die sangpaar Touch of Class.

Maar die gehore het – aand ná aand. ’n Mens kan maar sê tydens Afrikaans Is Groot (AIG) het hierdie vertolking van The Sound of Silence allesbehal­we stilte ontlok.

Nou wil duisende mense wat hul vertolking van dié Simon & Garfunkelt­reffer op die AIG-konsert gehoor het, meer weet oor Touch of Class.

Eintlik maak Deon (55) en Ruhan du Toit (33) al vyf jaar saam musiek. Maar hulle is nie die Touch of Class wat mense geken het nie, verduideli­k Deon in die ouditorium. “Ons het heeltemal van die tong in die kies, Afrikaanse kougommusi­ek wegbeweeg.”

Hy vertel gehore ontvang al die laaste paar maande hul nuwe aanslag goed. “Maar ons het dit nie verwag by AIG nie, waar daar soveel kunstenaar­s van gehalte is. Ons was net dankbaar om ’n liedjie hier te kon sing en het nie verder as dit gedink nie.” Hoe voel die twee nou? “Ons voel ons het met ons bas in die spreekwoor­delike botter geval,” antwoord Deon en lag.

DEON het ’n meestergra­ad in kliniese sielkunde, maar het dié beroep in 1991 vaarwel toegeroep om heeltyds musiek te maak. Eers was hy kitaarspel­er vir Anneli van Rooyen en Manuel Escórcio, maar kort voor lank het hy Touch of Class saam met Ronel Erasmus gestig. Hul treffer van 1991, Ek en My Meisie, se verkope was 60 000. Dis dié groep wat mense onthou, vertel hy.

Ronel het besluit om ’n sololoopba­an as gospelsang­eres te volg – en vyf jaar gelede het Ruhan haar plek ingeneem.

 ??  ?? Ruhan du Toit (links) en Deon van der Merwe word gereeld staande toegejuig wanneer hulle The Sound of Silence sing.
Ruhan du Toit (links) en Deon van der Merwe word gereeld staande toegejuig wanneer hulle The Sound of Silence sing.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa