As die aarde skud
Aardbewings kan groot skade aanrig. Hoe ontstaan hulle en hoe word hulle gemeet?
SOMMIGE aardbewings saai groot verwoesting: Geboue stort ineen en mense kry baie seer. Ander aardbewings is so klein dat jy nie eens weet dit gebeur nie. Wat veroorsaak dat ons planeet skud? Kom ons vind uit.
WAT LEI TOT ’N AARDBEWING?
Die aarde is in verskillende lae verdeel. Heel in die middel is die binneste kern en dan die buitenste kern. Rondom die buitenste kern is die mantel, met die aardkors heel buite-om.
Aardbewings gebeur in die aardkors, wat die dunste van die lae is. Die kors, wat sowat 40 km diep is, sluit die grond in waarop ons leef, asook die bodem van die see.
Die aarde se boonste lae is in verskillende dele verdeel, wat tektoniese plate genoem word en amper soos legkaartstukke inmekaarpas. Hierdie plate is ge-
middeld 125 km dik en heeltyd aan die beweeg, maar so stadig dat jy dit nie sal agterkom nie. Die lasplekke tussen die plate word verskui wingslyne of breuke genoem. Soms haak van hierdie lasplekke aan mekaar vas terwyl die res van die plaat aanhou beweeg.
Wanneer genoeg druk dan opbou, skuif die plaat skielik vinniger, soms bo-oor ’n ander, of dit breek selfs en dit veroorsaak ’n aardbewing. Dit kan groot skade aanrig, soos wanneer geboue tydens ’n hewige aardbewing in duie stort.
Die plek onder die aardoppervlak waar die aardbewing ontstaan, word ’n hipo- sentrum genoem. Die plek reg bo dit op die aardoppervlak staan as die episentrum bekend. Dit is waar ’n aardbewing op sy sterkste is.
Kleiner aardbewings kan gewoonlik voor en ná groot aardbewings gevoel word. Ons noem dit voor- en naskokke. Dit kan wissel van ’n paar uur voor of ná die aardbewing tot selfs maande later.
Aardbewings kom voor waar verskillende tektoniese plate bymekaarkom – die lasplekke wat ons hierbo genoem het – of by swak plekke in die tektoniese plate.
Verreweg die meeste aardbewings (sowat 90 persent) kom voor in ’n streek wat die Ring van Vuur genoem word. Hierdie gebied lê byna soos ’n gordel om die Stille Oseaan en sluit lande soos Nieu-Seeland, Indonesië, Japan en die weskus van die Amerikas in.
In lande waar aardbewings gereeld voorkom, soos Japan en Turkye, word geboue so ontwerp dat dit beter kan bly staan wanneer die aarde begin skud. Voorbeelde hiervan is die Sabiha Gökçen Internasionale Lughawe in Istanbul, Turkye. Dié stad lê waar drie groot tektoniese plate bymekaarkom en die kans is dus goed dat aardbewings daar sal voorkom. Die lughawe is ontwerp om ’n aardbewing van 8 op die Richterskaal te deurstaan.
Die Amerikaanse deelstaat Utah se parlementsgebou is ook aardbew ingbestand. Die ontwerpers daarvan het isoleerders van rubber by die fondament ingebou. Die idee is dat die isoleerders tydens ’n aardbewing sal sorg dat die gebou sagkens heen en weer beweeg sodat die fondament kan skuif, maar nie die res van die gebou bo dit nie.
DIE ALLERGROOTSTE AARDBEWING
’n Aardbewing in Chili op 22 Mei 1960 het ’n meting van 9,5 op die Richterskaal behaal. Daar was eers voorskokke van meer as 7 op die Richterskaal. Die aardbewing het ook ’n tsoenami veroorsaak wat teen meer as 300 km/h deur die see getrek het.
Dis onmoontlik om inligting te kry oor aardbewings wat gebeur het voor die 1900’s; eers toe het wetenskaplikes meer akkurate maniere begin gebruik om dié natuurverskynsels te meet.