Huisgenoot

DONALD JOHN TRUMP JR. (39) EN ERIC FREDERICK TRUMP (33)

-

“Ons is op baie maniere bederf, maar is altyd geleer om die waarde van die dollar te verstaan,” sê Donald jr., bekend as Don. Die twee oudste Trumpseuns het hul kinderjare baie soos Ivanka s’n deurgebrin­g en hul pa in sy sakeryk opgevolg.

Albei is kranige jagters, al hou hul pa glo nie van jag nie. Soos Ivanka is die twee as tieners kosskool toe gestuur om aan die media-manie oor hul ouers se egskeiding te ontsnap. Op universite­it het Don wild partytjie gehou en by gevegte betrokke geraak. Daarna het hy afgekoel en ’n jaar lank gehengel, as kroegkelne­r gewerk en in die ski-oord Aspen gewerk. Hy het nie toe veel kontak met sy pa gehad nie.

“Ek het ’n wonderlike tyd gehad, maar ’n mens se brein begin wegkwyn. Dit was net nie vir my genoeg nie.”

Anders as sy sibbes was hy oud genoeg om sy ouers se egskeiding te verstaan en in die media te volg. Hy het Donald die skuld vir die egskeiding gegee. “En dit was dalk nie regtig so nie, maar wanneer jy by jou ma woon, is dit maklik om gemanipule­er te word. Jy kry ’n eensydige uitkyk.”

Donald jr. het in 2005 met die model Vanessa Haydon (39) getrou en hulle het vyf kinders.

Die seuns was geheg aan Milos en Maria Zelnicek, hul ma se ouers, wat ses maande van die jaar by die Trumps gewoon het. Don het baie somers by hulle in die Tsjeggiese Republiek deurgebrin­g en praat Tsjeggies.

Hul ma, Ivana, sê: “Eintlik het ek hulle grootgemaa­k. Ek het besluit oor hul opvoeding en alles wat hulle gedoen het. Toe hulle 21 en uit universite­it was, het ek hulle aan Donald gegee en gesê: ‘Dit is die eindproduk – nou is dit jou werk.’ Toe gee hy hulle poste in sy organisasi­e, waarin hulle floreer.”

Eric, wat in 2014 met Lara Yunaska getroud is, prys sy pa se ouerskapst­yl: “Hy het altyd duisende kameras op hom gehad. Tog is ons as gewone kinders grootgemaa­k, of ten minste so gewoon as wat jy onder sulke omstandigh­ede grootgemaa­k kon word.”

Hy voeg wel by sy ouboet, Don, was soms vir hom meer van ’n pa as wat Donald was. “Op ’n manier het hy my grootgemaa­k. Ek het my pa lief en waardeer hom, maar hy het altyd 24 uur per dag gewerk.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa