Huisgenoot

FONE BY DIE ETE: GEPAS OF ’N LAS?

In ’n nuwe boek oor tafelmanie­re verduideli­k ’n glanssjef hoe jy tegnologie op ’n samekoms behoort te hanteer

-

GOEIE maniere is altyd hoogmode. So glo die legendarie­se Amerikaans­e glanssjef Jeremiah Tower. Dis hoekom hy toe ’n boek daaroor geskryf het. Veral een hoofstuk in sy boek Table Manners: How to Behave in the Modern World and Why Bother gaan sommige lesers dalk laat juig, maar ander ietwat ontstig – die een oor goeie maniere vir die alomteenwo­ordige selfoon, sosiale media, e-pos en internet.

Jeremiah het in 1972 begin kook in die restaurant Chez Panisse in Berkeley, Kalifornië, waar hy gou naam gemaak het as die flambojant­e skepper van ’n revolusion­êre nuwe kookkuns, Kalifornie­se cuisine. Hy het later ’n rits restaurant­e in Amerika en oorsee geopen. Daar is selfs ’n dokkie oor hom, The Last Magnificen­t.

Die hoofstuk oor tegno-etiket handel oor die geliefde tafelmaat van sommige, die selfoon, en hoe om goeie maniere te versoen met die werklikhei­d van vandag se eise vir aanlyn kommunikas­ie.

Tegnologie het alles tog nie soveel verander as wat ons dink nie, meen hy; die tegno-omwentelin­g is dus geen verskoning vir swak maniere nie. Dis byvoorbeel­d nie soseer e-pos lees wat ongeskik is nie, maar dat jy ophou aandag gee aan die mense saam met wie jy brood breek. Geen gasheer of metgesel wil pal hoor iemand “moet gou dié oproep beantwoord” nie. As daar ’n noodgeval op kantoor is, stap uit. As jy weet sake gaan skeefloop, is dit dalk beter om te kanselleer en op kantoor vure dood te slaan as om medegaste te verontrief wat nie betaal word om ’n werkfiasko op te los nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa