DINGE WAT BANG MAAK
Twee sterk vroue skryf elk ’n riller – een volledig uit die duim gesuig en die ander helaas nie
EEN NAG EN ’N BIETJIE
Deur Hester Kruger (Human & Rousseau, R174*) Op die voorblad van dié roman staan dit is op ’n ware verhaal gegrond. Waarom sou Hester Kruger dit dan nie as ’n outobiografie aanbied nie?
“Dit was vir my moeilik om die traumatiese gebeure van daardie nag so objektief weer te gee as wat ek graag wou. Afstand bring perspektief. Dit was dus makliker om die gebeure uit die fiktiewe Margaretha se perspektief oor te dra,” verduidelik sy. “Op ’n manier het dit dus haar storie geword en nie meer myne nie. Die pyn en verwarring was hare.”
Sy sê die ervaring was haar en haar man s’n, maar ook dié van baie ander mense in ons land. “Dit was ’n doodgewone Sondagaand toe drie gewapende rowers ons op ons plasie naby die Loskopdam tussen Groblersdal en Middelburg oorval en ontvoer.
“Iewers op pad dorp toe is ons saam met een rower in die veld agtergelaat terwyl die ander twee dorp toe is om met ons bankkaarte te gaan geld trek.
“Ongelukkig kon hulle nie regkom nie en het hulle my man kom haal. Dit het my alleen by die een rower agtergelaat.
“Elkeen wat al deur so ’n ervaring is, sal die verwarring en angs kan beaam wat ’n mens oorval.
“Niks maak sin nie. Die geweld wat toegepas word, is wreed.
“Die doodsd reigemente laat jou heeltyd vir jou lewe vrees. Tog het die verskriklike nag ook ’n besonderse een geword; die wonder van gloeiwurmpies en lelies en blesbokke wat vir jou die pad wys en troos bring.”
Hester het in ’n koeran tonderhoud gesê dis “teleurstellend” om in so ’n gewelddadige land te woon. Op my vraag oor die interessante woordkeuse sê sy: “Die gebeurtenis van die nag was vreesaanjaend, maar by die herbelewing en herbedink daarvan was my allesoorheersende emosie een van teleurstelling in die mensdom. Soos my man graag daarna verwys: ‘Dit was die nag waarin ek my naïwiteit verloor het.’ Dit was ’n moeisame pad om die teleurstelling te verwerk en weer die glas halfvol te sien.”
Nou sou ’n mens graag ’n volgende roman uit haar pen wou lees. “Ek beskou my eerder as ’n tuinier, maar die goeie ontvangs wat Een Nag en ’n Bietjie gekry het, laat my tog wonder.
“Miskien, eendag op ’n rëendag, daag die muse hier in die Bosveld op en herken ek haar.”
BLOEDLYN
Deur Madelein Rust (Lapa Uitgewers, R213*) Die owerspelige vroue van welgestelde mans word die een ná die ander vermoor en die lyke op ashope weggegooi.
Renata Malan, ’n forensiese sielkundige, maak saam met haar span jag op die moordenaar. Die saak word oneindig gekompliseer deur leidrade wat daarop dui dat haar pa, ’n ontsnapte reeksmoordenaar, die skuldige is. Renata baklei deurentyd teen die afgryse oor haar pa se dade, haar vrees dat hy wel aandadig is aan die moorde op die ontroue vroue en haar liefde vir hom.
Die lyke hoop op, die ondersoek sukkel weens die oënskynlike forensiese bewustheid van die een wat sy jag, en Renata se lewe word bedreig. Daar is kinkels binne-in kinkels en intrige op intrige voor die saak eindelik in ’n vreesaanjaende klimaks ontvou.
Dit is die storie van Bloedlyn, Madelein Rust se derde roman. Die 13de Kaart was haar debuut, gevolg deur Monstersaad en nou Bloedlyn. “My vierde, Moordhuis, land in Junie,” sê sy.
Die skrywer vertel waar Bloedlyn vandaan kom.
“Terwyl ek aan Monstersaad gewerk het, het ek geweet die storie van die hoofkarakter en haar pa is nog lank nie klaar nie. Bloedlyn het so half outomaties ’n uitvloeisel van Monstersaad geword. Seker eienaardig, maar boek twee het boek drie geÏnspireer. Ek kon ná Monstersaad beswaarlik wag om aan Bloedlyn te begin werk.”
Haar gunsteling-toneel lyk so: “Sonder om te veel weg te gee, dis een van die laaste tonele in die boek. Renata stap saam met die moordenaar deur ’n huis en sy word gedwing om tragedies uit haar kinderdae te herleef. In daardie toneel beskryf ek my ouma se huis op ’n kleinhoewe buite Bloemfontein. Benewens dat dit effens grieselrig is, is daar baie nostalgie in daardie beskrywing.”
Madelein is ’n kanker-oorwinnaar. Die belowende skrywer praat openlik hieroor.
“Kanker het my geleer ek is tot enigiets in staat deur die Vader wat by my is, maak nie saak wat die omstandighede is nie.
“Ek het Bloedlyn geskryf en teen die spertyd ingegee terwyl ek ’n mastektomie beleef en chemoterapie ontvang het.
“Dit was met tye swaar, maar ek het elke keer by die Vader krag gekry om my ken te lig en aan te gaan.”