Huisgenoot

GROEN MONSTER RAAK ÁL ERGER

-

Ek is al 10 jaar getroud met ’n vrou wat my van die begin af nie vertrou het nie, want ek was eerlik en het haar van my verlede vertel.

Sy is pragtig, maar vergelyk haar met al wat ’n vrou is. Sy baklei met my wanneer daar ’n mooi vrou in ’n plek is. Ek mag nooit my kinders se ma kontak nie.

Sy voel ook minderwaar­dig, want sy meen sy het nie ’n sukses van haar lewe gemaak nie. Sy ontplof gereeld. Ek wonder of depressie sy tol eis. Wanneer ek vra dat sy profession­ele hulp kry, weier sy.

Vasbyt van Pta

Die wortels van oormatige jaloesie lê diep. As sy jou ná 10 jaar steeds verkwalik, lê die redes daarvoor veel dieper as dat sy bloot deur ander vroue bedreig voel.

’n Mens vrees verwerping as jy self verwerp is, hetsy deur jou gesin as kind of in ’n verhouding as volwassene. Dit kan so ’n sterk houvas op jou hart hê dat jy wil verwerp voor jy verwerp word. Jy is reg dat berading hiervoor sal help.

Sulke jaloesie spruit ook uit diepe nyd op dit wat ander het, wedywering of ’n knaende gevoel van verlies. As haar ouers mekaar verkul het of sy self in ’n ontroue verhouding was, sal sy haarself gedurig met sulke gedagtes martel. Sy moet leiding kry om hierdie bagasie af te skud.

As sy ’n probleem met haar selfbeeld het, gaan sy dit nie in jul verhouding of haar verhouding­s met ander opgelos kry nie. Sy moet profession­ele hulp kry.

Help haar ’n besluit oor berading neem deur haar veilig te laat voel. Help haar ook om minder afhanklik van jou en jul verhouding te raak deur haar vriendskap­pe met ander te steun en haar ander belangstel­lings te help ontwikkel.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa