ONS ONTHOU, NÁ 72 JAAR
Dit was die grootste volksmoord in menseheugenis – en dekades ná die einde van die oorlog dink Joodse slagoffers nog terug aan die verskrikking asof dit gister gebeur het
NÁ BYNA 80 jaar het Susie Lind nog die sakdoek wat haar ma haar gegee het toe hulle mekaar die laaste keer groet. Sy was 14 toe sy in 1939 op ’n trein van Praag na Brittanje klim en het dié dag geweet sy sou haar ouers nie weer sien nie. Hulle was vermoedelik onder die 6 miljoen Jode wat tydens die Tweede Wêreldoorlog omgekom het. Sy is een van vyf Joodse vlugtelinge wat hul buitengewone verhaal deel.
LILI POHLMANN (86)
Lili se kinderjare in Lwif (toe deel van Suidoos-Pole, nou Oekraïne) was idillies – tot in 1939. Haar pa was ’n bankbestuurder en haar ma ’n klereontwerper. “Ek was ’n pappa-se-dogtertjie en het voor die oorlog saam met hom op werkreise gegaan,” vertel sy.
Haar ander blywende herinnering is van die dag voor die oorlog uitgebreek het. “Ek sien nog in my geestesoog Lwifstasie op 31 Augustus en die Poolse soldate wat daar slaap. Om vyfuur die volgende oggend het die Duitsers die stasie gebombardeer; hulle is almal dood.”
Teen laat September het die Sowjetmagte beheer van Lwif oorgeneem en dit twee jaar beset tot die Nazi’s die stad ingeval het. “My wêreld is op 15 Augustus 1942 verpletter toe my pa en kleinboet weggeneem is en waarskynlik in die gaskamers van (die uitwissingskamp) Belzec omgekom het. Ek en my ma het by my grootouers in die ghetto aangesluit.”
Op die aand van 18 November 1942 het gerugte die ronde begin doen dat dié wat nie in diens van die Wehrmacht of oorlogsbedryf is nie, na Belzec gedeporteer gaan word. Lili was 12. “Ek was rasend bekommerd oor my ma, wat vir Duitse burgerlikes klere gemaak het. Sy sou eers die volgende oggend na die ghetto terugkeer. Teen omtrent drieuur die oggend, met nagklere en pantoffels aan, het ek uitgeglip om haar te probeer soek. Jy kon oral skote en blaffende honde hoor, maar daar was g’n ander manier om by my ma uit te kom as om in een van Lwif se langste strate af te stap nie.”
Weerskante van die straat was Duitse militêre barakke en soldate het wag gestaan. “Ek moes by hulle verbystap en óf voorgekeer óf geskiet word. Op die een of ander manier het niks gebeur nie. Natuurlik kon ek hulle nooit bedank nie.”
Lili het dit tot by haar ma gemaak. Dié het een van haar klante – Irmgard Wieth, ’n Duitse sekretaresse vir die Nazi-onderburgemeester van Lwif – gevra dat sy hulle versteek, al is dit net vir ’n kort tydjie. “Frau Wieth was eers onwillig, maar het ingestem toe sy my sien.”
Dit was gevaarlik: Irmgard het gewoon in die woonstel van ’n vriend wat ’n hooggeplaaste SS-offisier was. “Ná ’n ruk het my ma teruggegaan na die ghetto om haar ouers te versorg, maar Frau Wieth wou haar nie toelaat om my saam te neem nie. Ek kan onthou sy het gesê: ‘Ek sal nie toelaat dat Lili in die Gestapo se
hande beland nie.’ ’n Ruk later het Frau Wieth ook ’n Joodse egpaar ingeneem en versteek om my geselskap te hou.”
Teen Mei 1943 was Lili se grootouers aan moederskant dood. Haar oupa is deur die Nazi’s vermoor en haar ouma het haar eie lewe geneem. Lili se ma het verslae uit die brandende ghetto ontsnap om by haar dogter aan te sluit.
“Nou het Frau Wieth vier Jode versteek. Eendag het die SS-man teruggekom, want iemand het hom laat weet Frau Wieth het ’n minnaar, ’n Wehrmachtoffisier. Hy het homself ingelaat en in en onder die beddens, klerekaste en kaste begin skiet. Hy het geskree en gevloek.
“Ons het in die waskamer geskuil en die deur gesluit. Die man het by die kombuis ingekom, maar nie skote afgevuur nie. Was hy dan doof dat hy nie ons paniekerige hartklop gehoor het nie? Toe hy nêrens ’n offisier kry nie, het hy besluit dit moet ’n poets wees en bly toe twee weke. Daar woon ons toe saam met ’n SS-trawant onder een dak. Ongelooflik.”
Met dié dat Irmgard bedags gewerk het, het Lili se ma voorgegee sy is ’n Oekraïense huiskleremaker, terwyl die ander Joodse vrou haar as ’n Oekraïense kok en huishulp voorgedoen het. Intussen het Lili en die Joodse man in die waskamer weggekruip. Hulle kon nie ’n geluid maak nie. “Saans het ons dit gewaag om op die kombuisvloer te slaap en gebid die SS-man kom nie in vir water nie.”
Teen 1944 het Irmgard Lili en haar ma gehelp om skuiling te kry by Andrei Sjeptitski, die Griekse Katolieke metropolitaanse aartsbiskop in Lwif. “Ek het voorgegee ek is ’n Oekraïense weeskind en die vals naam Lidia Ostrofska gekry; my ma het gemaak of sy doofstom is, want sy kon nie Oekraïens praat nie. Ná die Russiese bevryding in Julie is ons terug na Krakau.”
In 1946 het Lili Brittanje toe getrek as deel van ’n program wat rabbi Solomon Schonfeld gereël het. Hy het duisende Jode gered deur hulle na Brittanje te bring en vir hulle blyplek, opvoeding en werk te reël. “Ek het op my 16de verjaardag in Londen aangekom. Stel jou dit voor,” sê Lili. “My ma het in 1947 gevolg.”
In Engeland het sy twee keer getrou: eers met ’n oorlewende van Lwif, en later met die akteur Eric Pohlmann. In 1985 ontmoet Lili toe vir Peter Janson-Smith, ’n letterkundige agent wat veral bekend was vir sy kliënt Ian Fleming (skrywer van die James Bond-verhale). “Ons was meer as 30 jaar saam, tot sy dood verlede April. My ma is in 2001 in die ouderdom van 95 in Londen oorlede.
“Maar my storie sal altyd aan Frau Wieth verbind wees. Ná die oorlog, nadat ek haar opgespoor het, het ek die Britse owerheid genader met ’n versoek om haar na Engeland te bring om by ons te woon. Dit het tyd geneem, maar eindelik is sy toegelaat. Sy het sowat twee jaar by ons gewoon voor sy Amerika toe is.”
Irmgard het in 1970 teruggekeer na die nuwe land wat sy leer liefkry het. “Sy het Worthing haar tuiste gemaak, maar die meeste naweke by ons deurgebring. Sy is in 1981 in Sussex dood, ’n heldin wat die lewe van vier Jode gered het deur hulle langer as ’n jaar te versteek.”
IVAN SHAW (78)
Hy klink en lyk soos ’n waardige Engelse heer in sy laat 70’s, maar Ivan Shaw is in Februarie 1939 as Ivan Buchwald in Novi Sad gebore. Die stad was in die destydse Joego-Slawië, maar is in 1941 by Hongarye en in 1944 by Duitsland ingelyf. “In Mei daardie jaar is my ouers weggeneem,” sê hy. “Ongelukkig kan ek nie my afskeidsgroet aan hulle onthou nie.” Hy bly ’n oomblik stil terwyl hy nadink oor hul dood in afsonderlike dodekampe.
Ivan, toe vyf jaar oud, is gestuur na ’n tante wat half-Joods was. Toe een van die bure haar verraai, is hy na ’n deurgangskamp en toe ’n tronk gestuur. “Ek onthou ek kon nie deur die selvenster se tralies sien nie omdat ek te klein was.”
Ná die tronk was Ivan in die proses om oorgeplaas te word na wat hy aanneem ’n konsentrasiekamp sou gewees het. “Ek was op ’n pad langs ’n woud toe ’n ander tante van my my gryp. Ons het in die woud weggekruip. Daar het ’n Duitse soldaat ons in ’n stadium raakgesien, maar anderpad gekyk. Wie weet hoekom?”
Hy het haar huis gehaal, amper 50 km van Novi Sad af. “Dit was Junie 1944.” (Blaai om)
Teen Oktober het die Russe aangekom en het hy eindelik veilig gevoel.
In 1947 het Ivan Brittanje toe gevlieg om op Amersham te gaan woon by ’n tante wat net voor die oorlog daarheen gevlug het. Daar is hy aangeneem as Ivan Schatz, maar in 1961 het hy op 22-jarige ouderdom sy van na Shaw laat verengels.
In sy tienerjare in Brittanje het Ivan nuuskieriger geword oor sy agtergrond, maar sy aanneemouers wou nie hê hy moet na Novi Sad terugkeer nie. Hy het gespaar en eers in die laat 1950’s teruggegaan. “My familie wat nog daar was, was baie bly om my te sien.”
Wanneer hy nou terugkyk, meen Ivan hy het ’n “baie gelukkige” lewe gehad – die ontsnapping uit die tronk, die woud en om toe nie na ’n konsentrasiekamp geneem te word nie. Ook in Engeland was hy gelukkig. “Baie, baie jare dieselfde vrou, dieselfde werk, dieselfde huis. Ja, ek is afkerig van gevaar, maar dis weens die oorlog. En kyk,” sê hy glimlaggend, “ek het 72 jaar langer geleef as wat (die Nazileier Adolf) Hitler wou hê ek moes.”
SUSIE LIND (91)
In ’n laai in Susie se huis is die sakdoek wat haar ma haar in 1939 gegee het. Dis ’n aangrypende aandenking wat aan haar gegee is toe sy as 14-jarige uit Praag weg is op een van die laaste Kindertransport-treine uit Tsjeggo-Slowakye.
Kindertransport is die informele naam vir die reddingsendings wat van 1938 tot 1940 duisende Joodse kindervlugtelinge uit Nazi-Duitsland en sy grondgebiede na Brittanje geneem het. “My pa het nie stasie toe gekom nie; hy was te gebroke om my weg te sien.” Susie bly ’n oomblik stil. “Ek’t my ouers nooit weer gesien nie.”
Omdat hulle die ergste gevrees het, het haar ouers reeds in 1938 haar ouer suster na Engeland gestuur. Nou was dit Susie se beurt om haar geboorteland te verlaat. “Daardie dag was ek hartseer oor weggaan, maar ook opgewonde,” sê sy.
Susie en haar suster het in ’n losieshuis in Kensington gewoon voor sy gestuur is na ’n dorp in Shropshire, waar sy tot in 1942 gewoon het. “Ek het klereontwerp studeer terwyl ek in ’n winkel se korseten-onderklereafdeling gewerk het.”
Vroeg in 1943 is Susie (toe 18) terug Londen toe en het sy by ’n klerekleinhandelaar gaan werk. Ná die oorlog is sy getroud. Sy het twee dogters gehad, en later kleinkinders. Sy is al lank ’n weduwee.
Sewentig jaar later bekommer sy haar oor Jodehaat, die opkoms van nasionalisme en die lot van vlugtelinge uit plekke soos Sirië. “Ek was immers een.”
ED WOLF (80)
Ed lyk baie opgewek. Hy is in Nederland as Eduard Wolff gebore en het die afgelope 40 jaar ’n baie suksesvolle tropieseplantonderneming in Brittanje opgebou. “As Nederlander, wat anders kan ek doen as plante?” sê hy droogweg.
Waar hy in sy sitkamer vol glansende loof sit, praat Ed die eerste keer daaroor dat hy in Amsterdam baie naby aan Anne Frank versteek was. En in 1955 bring hy toe sy geel Ster van Dawidkenteken, wat hy verplig was om te dra om te wys hy is Joods, saam met hom na Engeland. “Wat ’n aandenking.”
Die eerste vier jaar van sy lewe is Ed deels deur sy grootouers aan moederskant grootgemaak (albei is later in ’n dodekamp dood) tot sy ma met ’n nie-Jood getroud is. “Ek is as Lutheraan gedoop, seker in ’n poging om my ras en geloof weg te steek. Tog is ek steeds as Joods aangedui.” Hy haal die brief van die owerheid uit wat sy status aandui.
Tot middel 1943 was die lewe in Monnickendam, sowat 15 km noord van Amsterdam, draaglik. Maar toe word die beperkings geleidelik ingestel. “Ek kon nie na die rolprentteater gaan nie, want Jode is nie binne toegelaat nie. Ek het afgesonder geraak en geen vriende gehad nie.”
Nadat hy ’n rukkie ’n Christelike skool bygewoon het, is Ed verplig om te loop. Hy het drie jaar nie skoolgegaan nie. Eers ná die oorlog kon hy teruggaan. “Dit het gemaak dat ek laat bloei,” sê hy skertsend – tuingrappies is sy spesialiteit.
In Junie 1943 is Ed na Amsterdam verskuif nadat sy ma gereël het dat hy in ’n halfweghuis geplaas word. “Ek het later uitgevind dis naby die plek waar Anne geskuil het. Ek het dieselfde geluide gehoor wat in haar dagboek beskryf word.”
Ná ’n paar maande is hy sonder sy ma en stiefpa na die platteland geneem. “Hulle het dit deur ’n netwerk van beskermers gereël. Ek het by verskillende gesinne gewoon en is altyd as verlangse familielid voorgehou. Ek het selfs ’n ander lewensverhaal en naam gekry en is deur ’n plaaslike barbier ondervra om my nuwe self te toets.” Ed kan nou daaroor lag. “Tot vandag toe hou ek nie van praatjies maak by haarkappers nie.”
Teen 1944 was hy op ’n ander dorpie in
’n huis oorkant ’n hooggeplaaste Nederlandse offisier wat pro-Nazi was. Teen die einde van die oorlog was Ed terug in Monnickendam by sy ma en stiefpa, wat Jehovasgetuies geword het.
Weens gesinsprobleme en trauma van sy oorlogservarings was sy tienerjare ongelukkig. Hy is gestuur na ’n psigiater, wat aanbeveel het hy verlaat die huis.
Toe maak hy so. Hy het tot in 1955 ’n tuinboukollege bygewoon toe sy verhuising na Brittanje op 19-jarige ouderdom gereël is. “Ek het gereis met ’n visum as ’n staatlose student, net een pond, ’n kartontas, ’n fiets en ’n paar klompe. Ek is gestuur om in ’n tuin in Suffolk te gaan werk, waar ek die meisie ontmoet het wat later my vrou geword het.”
’n Jood, gedoop as ’n Christen, en in sy tienerjare deur Jehovasgetuies opgevoed. Ed kan nou glimlag oor dié mengelmoes.
LOUISE* (73)
In Louise se huis in die noorde van Engeland staan ’n menora, ’n kandelaar met nege arms, op ’n ereplek op die kaggelrak. Dit is teen die einde van die oorlog uit haar ouerhuis in Nederland gered.
Louise is in 1943 gebore, met ’n Joodse ma en Christenpa. “Ek kan nog ’n paar goed van die einde van die oorlog onthou, al was ek baie jonk,” sê sy. “My vroegste herinnering is dat ek in een van die bure se huis in ’n kas weggesteek is, met kleefband oor my mond. Dis pikdonker. Ek’t geen speelgoed of poppe gehad nie.”
Dit was nadat Louise, haar ouers en ouer suster by die ghetto in Amsterdam ingedwing is en voor haar pa weg is om by die weerstand aan te sluit. “Die Duit- sers het by ons deur ingebars en ons op die kerkplein uitgejaag om gedeporteer te word. Maar die predikant het my en my suster by die kerk ingeneem, terwyl my ma na ’n deurgangskamp gestuur is.”
Haar pa, wat later in die Westerborkdeurgangskamp was, het daarin geslaag om te ontsnap. “Toe my ma terugkeer, het my ouer suster saam met haar gaan wegkruip. Ek het twee jaar saam met ’n gesin in ’n huis langs die kerk gewoon.”
Ná die oorlog wou Louise se pa haar gaan haal, maar die gesin by wie sy gewoon het, wou haar hou. “Hulle het selfs geld aangebied, maar my pa het geweier. Uit woede is my klere uitgetrek en is ek in my broekie, ’n moulose toppie en sokkies gelos. Hulle het my krulle afgeknip.”
Teen einde 1945 het Louise en haar ouers teruggekeer na die gesinshuis in Nederland, maar dit was geplunder. Die menora is darem gered.
In haar laat tienerjare het sy haar ouers oorreed om haar na Brittanje te laat emigreer en ’n godsdiensopleidingskool in Londen by te woon. ’n Gereëlde huwelik het gevolg en in 1966 het sy en haar man na die noorde van Engeland verhuis. Daar het sy ses kinders grootgemaak.
Kort nadat hulle hul huis gekoop het, het Louise sonder haar man se medewete ’n bouer gevra om in die voorportaal ’n valdeur in te bou wat na die kelder lei. “Ek het blikkieskos, bone en rys daar onder gebêre – net ingeval.” Net ingeval? “Ja, as die Duitsers terugkom.”
Louise wou haar regte naam weerhou ná onlangse ervarings van Jodehaat. © RICHARD BROOKS/THE SUNDAY TIMES MAGAZINE/NEWS SYNDICATION