’n Tukkie – op 14!
Skool het dié slimkop verveel – nou studeer hy B.Sc. nadat hy sy skoolloopbaan deur tuisonderrig tjoeftjaf kafgedraf het
HY LYK soos ’n skoolseun. Sy vel is seepglad; van ’n stoppelbaard is daar nog g’n teken nie. Maar toe Hjalmar Rall begin praat, klink hy pure eerstejaarstudent, al is hy net 14.
Sy blou oë skitter toe hy van sy studie vir ’n B.Sc.-graad vertel. Hy gesels oor vakke soos astro- en kwantumfisika en oor al die slim mense wat vir hom klas gee.
Maar moenie dink die bloedjong eerstejaartjie aan die Universiteit van Pretoria is vars uit matriek nie. Nee, verlede jaar het Hjalmar deur tuisonderrig ’n postmatriekkursus, die Universiteit van Cambridge in Engeland, se internasionale A-vlakke-eksamen, voltooi sodat hy ’n bietjie ouer kan word voor hy universiteit toe gaan.
Sy hoërskoolloopbaan het hy ook danksy tuisonderrig in ’n rekordtyd kafgedraf. Pleks van vier jaar aan gr. 6 tot 9 wy, was Hjalmar binne drie maande met die Cambridge-leerplan gelykstaande daaraan klaar. Die volgende vlakke, gelykstaande aan gr. 11 en 12, het hy binne 18 maande voltooi.
Nou, op ’n ouderdom waarop sy tydgenote pas met hoërskool begin het, sit Hjalmar saam met studente in lesingsale. Tot dusver geniet hy elke klas. “Ek gaan net moet leer om genoeg selfvertroue te hê om met die professore te gaan praat,” sê Hjalmar, wat by sy ouers in Brooklyn woon. Met dié dat hy nog te jonk is vir ’n rybewys, laai pa Heinrich (55) hom soggens by die kampus af.
Die beste van die universiteitslewe tot nou vir Hjalmar is die nuwe mense wat hy ontmoet het en nuwe vriende wat hom dadelik aanvaar het. ’n Meisie het hom uit die bloute ’n drukkie kom gee, vertel hy. Hy geniet dit hier tussen mense wat soveel meer as hy weet – “en daar is baie van hulle”, sê die beskeie wonderkind. “Mense verwag ek moet soveel van alles weet, maar daar is baie mense hier wat soveel meer as ek weet en dit maak my opgewonde.”
JY SOU Hjalmar maklik ’n jong genie kon noem, maar van dié woord hou Heinrich niks. Hy is selfs versigtig om die woord “begaafd” te gebruik vir sy en sy vrou, Annette (55), se enigste kind, want daar is honderde kinders in Suid-Afrika soos Hjalmar, meen Heinrich. Sy ouers het bloot sy potensiaal raakgesien en hom alle moontlike geleenthede gegee om teen sy eie tempo te ontwikkel.
Hjalmar was skaars ’n jaar oud toe sy pa agterkom hy is bogemiddeld slim. Hy kon dit sien aan die manier waarop hy sy
speelgoed hanteer en prente teken – nogal driedimensioneel. “Hy het homself leer lees nog voor hy skool toe is,” vertel Heinrich. Die slimkop het op sy ma se skoot gesit terwyl sy vir hom voorlees en die woorde gevolg.
Hy het op Malmesbury begin skoolgaan. Die gesin het op Riebeek-Kasteel gewoon. Hy was van gr. R tot die helfte van gr. 3 in ’n dubbelmedium-privaatskool en daarna in ’n dubbelmediumstaatskool op Riebeek-Kasteel. Maar die skrander seun was doodverveeld in die klas. Wiskunde het vir hom jaar ná jaar na dieselfde ding gevoel. “Ek het altyd ’n boek onder my bank sit en lees,” sê hy.
Omdat Hjalmar so vinnig verveeld geraak het, het sy pa vir hom Scratch afgelaai, ’n programmeringsprogram van die Massachusetts-instituut vir Tegnologie. So het Hjalmar al in sy laerskooldae met algebra kennisgemaak.
By die skool was hy kinderlik ongelukkig, vertel sy pa. “Hy was gefrustreerd. Die skool het geweier om hom ’n graad te laat oorslaan.”
Daarom het sy ouers ná sy gr. 5-jaar besluit tuisonderrig sal die beste opsie wees. Omdat die Universiteit van Cambridge soveel aansien geniet, het hulle op dié se leerplan vir tuisonderrig besluit. Hulle het by ’n afstandsonderriginstansie met die eerste fase begin, maar ná ’n paar maande op eie houtjie die handboeke deurgewerk. Heinrich, toe in die drukkersbedryf, het sy program so gereël dat hy Hjalmar elke oggend vier uur lank “’n intense klas” kon gee. Hjalmar het in dié tyd ook sy huiswerk afgehandel.
Ma Annette, ’n skilder, pianis en violis, het haar seun van jongs af van musiek en kuns geleer. “Ons was betrokke by ons kind. Hy het met stimulasie grootgeword. Hy kon baie lees, want ons huis is vol boeke,” sê Heinrich, wat nou vir ander leerders ekstra wiskundelesse aanbied.
Terwyl ander kinders smiddae op die sportveld deurbring of huiswerk doen, het Hjalmar sy tyd verwyl met fotografie, lees, skryf, robotika en om allerlei dinge na te vors.
Hjalmar moes na Kaapstad reis om sy eksamens by die Britse Raad daar af te lê. Die vraestelle is in Engeland nagesien. Op grond van die sertifikate wat deur Cambridge uitgereik is, het hy matrikulasievrystelling gekry.
Sy seun het in die jare van tuisonderrig selfdissipline geleer en “al die vaardighede wat nodig is om op universiteit te oorleef ”, meen Heinrich. Vra jy Hjalmar of hy voel hy het van die dinge van kindwees misgeloop, is sy antwoord ’n vinnige nee. “Hjalmar groei teen die pas waarvoor hy geprogrammeer is,” voeg sy pa by.
Oor die negatiewe opvattings wat aan tuisonderrig kleef, het Heinrich ’n broertjie dood. “Tuisonderrigkinders is selfversekerd en gemaklik met hulself. Vir hulle is daar nie iets soos boelies of groepsdruk nie.” Hulle is ook nie minder sosiaal as kinders wat skoolgaan nie, meen hy.
“Hjalmar is op 14 ver bo die akademiese vlak van ander kinders van sy ouderdom. Dit is asof hy in sy denke ’n grootmens is. Wat moes hy nou die volgende vier jaar gedoen het tot hy 18 word? Hy is volwasse genoeg om alles te hanteer soos dit kom.”
En wat van partytjies saam met sy veel ouer klasmaats? Daarvoor was daar nog nie tyd nie, sê Hjalmar, “want almal sit nog en roosters uitwerk”.
Sy droom is om eendag ’n wetenskaplike te wees. “Daar is ’n oneindige hoeveelheid goed wat ons nooit gaan weet nie. Daar is soveel goed daar buite,” sê die leergierige student.
“Ek wil my bes doen om soveel moontlik te probeer uitvind.”