Huisgenoot

Verhaal: Pa Het Belowe

Hul maats kom streep-streep aan om hul pa te groet voor hy ‘inval’, maar wat van daardie beloofde fiets?

- Deur SHEUGNET PRETORIUS Illustrasi­e: LOUISA GERRYTS

DR. VENTER sukkel nou al ’n maand om pa weer reg te kry. Hy gee inspuiting­s, pille en allerhande raad. Pa is selfs 10 dae in die hospitaal, maar alles help niks. Ma noem dr. Venter die engel Gabriël, want hy red pa altyd uit die kloue van die dood. Pa bring baiekeer in die badkamer op. Dit klink soos ’n waterval. Tickey lag en sê: “Lekker!”

“Sies, Tickey! Onthou wat oupa gesê het van jou ouers. Die sewende gebod!”

“Die vyfde, onnosel! Ken jy nie eens die Tien Gebooie nie?”

“Sjuut! Julle moenie so raas nie,” sê ma. “Pa is baie siek. Hy bring bloed op. Hy moet rus kry. Gaan speel julle buitekant.”

Ma trek diep asem in en roep: “Maria! Bring die kinders se kos, asseblief.”

Ma vryf oor Tickey se kop. “En hoe het dit vandag met die toets gegaan, ou Baab?”

Sy noem hom altyd ou Baab wanneer sy ekstralief vir hom voel. Hy het gister ’n pak by pa gekry omdat pa getrek was.

“Nie te goed nie, Ma.” Tickey sug en gaan sit by die kombuistaf­el. “Ai, my kind.” Sy vryf weer oor sy kop. “Ma hoef nie vir hom te jammer te voel nie, want weet Ma wat Tickey vandag gedoen het? Hy het my laaste biltongbro­odjie op die grond gesmyt!”

“Help my!” roep pa uit die kamer. Weer val die waterval soos hy naar word.

Ma is by die deur uit. Tickey skud my rond soos ’n sirkusdier. “Jou klikbek! Ek het jou al voorheen gewaarsku!”

My tande klap. Ek ruk los en duik agter Maria se rug in.

Ek skop na Tickey en kry ’n lekker hou in op sy maermerrie. Hy het ’n verskrikli­ke humeur, nes pa. Maria gryp hom met haar groot hande vas en gooi hom by die agterdeur uit. Ma is nog by pa en ek eet albei borde kos op. Dit sal hom leer om my toebroodji­es uit te los.

Tickey is nie op die oomblik baie lief vir pa nie, want hy pik altyd op hom wanneer hy terugkom van die hotel af. Daar gaan partykeer maande verby dat pa nie hotel toe gaan nie. Dan voel dit soos hemel op aarde, sê ma.

Pa is ’n apteker, maar die boere kry selfs gif by hom wanneer die vinke hul oeste opvreet. Tickey help kamtig die gif afweeg. Hy dink hy is te wonderlik en spog by sy paar skoolmaats oor hoe hy presies weet watter gif by watter dier of voël pas.

In ’n apteek is daar net ’n paar goed wat jy eet sonder om dood te gaan. Daar is groot stukke teesuiker wat aan lang stukke tou vasgemaak is en rysdoppies en taai hoesstroop. Die lekkerste is liquo

rice- poeier.

PA IS baie swak en bly ’n hele week in die bed. Tickey sê hy sal nie regkom nie, want hy loop kort-kort spens toe en drink brandewyn en water uit die groot kenfroetbo­ttel agter die hoop boerseep.

Tant Suzy Maritz en ma staan voor pa se bed en hou mekaar se hande vas.

“Kyk hoe wit en uitgeteer lyk hy, Suzy,” fluister ma.

Pa lê op die dubbelbed in sy gestreepte pajamas. Sy tande lê en lag in die klein glas op die bedkassie. “Het jy al die predikant laat weet?” “Nog nooit, Suzy! Hy sal hom soos ’n brandsiek hond wegjaag.”

Hulle kyk lank na pa. “Hy wil ook niks eet nie. Dis net die ewige dors,” sê ma en sug hard.

Pa kreun. Die twee vroue gee vinnig pad en ek hol agterna.

Kosie Bennett en Tickey is besig om soos gewoonlik voor ons garage met hul soldaatjie­s te speel toe ek sê: “Pa se einde is naby.” Kosie kyk na my en Tickey byt sy lip. “Ma het nou net vir tannie Suzy gesê pa se einde is naby.” Ek sluk en vee die trane van my wange af. “Pa se einde is naby?” vra Tickey hees. “Ja, man. Dr. Venter sê pa se lewer is al tot by sy longe geswel van al die brandewyn.” Kosie begin sy soldate in sy tassie pak. “Ek sal julle gaan wys as julle wil.” “Miskien moet jy jou pa . . . gaan groet, Tickey,” raai Kosie hom aan.

Tickey knik en ons drie stap suutjies deur die kombuis. Maria is by die kombuistaf­el besig om boontjies te kerf.

Pa lê nog net waar hy gelê het. Tickey en Kosie sê niks. Hulle kyk net.

Kosie ry dadelik weg op sy fiets en ek en Tickey sit langs mekaar op die tuinbankie. “Gaan ons nou wesies word, Tickey?” “Nee, man. Ons het nog vir ma. Wees is net wanneer albei ouers wegval.” “Wegval? Wegval waarheen?” “Doodgaan. Ken jy nie suiwer Afrikaanse uitdrukkin­gs nie?”

“En wie gaan vir my ’n fiets koop as pa wegval? Pa het vir my ’n fiets belowe as ek standerd drie deurkom.”

“Jy sal buitendien nie standerd drie deurkom nie,” sê Tickey. “Jou laaste rapport was, om dit sagkens te stel, uiters vrot. Nul uit 10 vir somme. Twee uit 10 vir geskiedeni­s. Om nie eens te praat van jou punte vir Engels nie.”

“Ag, as oom Hitler die oorlog wen, hoef ons nooit weer ou Engels te praat nie.”

Martha en Anna kom by my speel terwyl ons nog oor pa se wegval praat.

“Hoekom huil jy, Shannon?” wil Anna weet. “Sommer,” sê Tickey dikbek. “’n Mens huil nie sommer maar nie. Julle het weer baklei en jy het vir Shannon geslaan,” sê Martha kwaai. “Ek huil omdat pa gaan inval.” “Waar gaan jou pa inval?” wil Anna weet.

“Wegval!” skree Tickey. Hy hou nie van Anna nie, want sy is verlief op hom. “Hu?” vra Martha. “Pa se einde is naby.” Ek vee met my nat sakdoek oor my gesig. “Wil julle hom vir die laaste keer sien?” Hulle wil. Ons stap weer verby Maria, wat nou aartappels sit en skil. Sy kyk ons skeef aan toe ons verbyloop. Eers ek, dan Martha en Anna met Tickey heel agter.

In die slaapkamer is almal stil. Ons kyk na pa. Martha huil ook nou en hulle loop dadelik huis toe.

’n Rukkie later kom Solly Senekal en Boetie van Rensburg ook na pa kyk. Kosie het vir hulle vertel dat pa gaan wegval.

Die middag is ons vreeslik besig. Baie kinders kom na pa kyk. Tickey sê hulle kom afskeid neem van pa. Party bring vir ons lekkergoed en Charmaine gee vir my ’n ou inkleurboe­k van haar en twee rooi penne. Selfs die Van Lingen-tweeling kom vir pa groet, en hulle is nie eens ons maats nie.

Ek en Tickey neem beurte om die kinders na die slaapkamer te neem. Terwyl Tickey in die kamer is, vertel ek van pa se lewer.

LATER kom Martha en Anna weer by die huis aan. Willie en Mal Kosie het ook saamgekom om te kom groet.

My oë is nou amper toegeswel en ek kan byna nie sien nie. Ek loop voor. Dan volg Willie, Martha en Tickey. Anna loop laaste. Anna dra vir Mal Kosie op haar heup.

In die kombuis kyk Maria kwaai na ons en vra: “Watse baie lopery is dit vandag hier deur die huis?”

“Ons gaan oom Koch groet,” sê Anna stil. “Julle gaan wát doen?” “Nie so hard nie, Maria. Almal kom vir pa groet. Pa is besig om dood te gaan,” sê Tickey vies.

“Dood? Modimo . . . Modimo!” skree Maria. Sy gooi haar voorskoot oor haar kop en hardloop na haar kamer agter die huis.

“Die simpel Maria. Het sy geen respek nie?” vra Tickey vies.

Ek maak die slaapkamer­deur oop en wink vir die ander om in te kom.

Ons staan in ’n kring om pa se bed. Hy roer nie eens nie. “Haal hy nog asem?” vra Willie. “Ja, man,” sê ek terwyl ek na pa se bors wys. “Sy pajamas gaan op en af.”

“Hy lyk soos ’n lyk,” fluister Martha hees. Mal Kosie lag skielik kliphard. Pa maak sy oë oop. Martha gryp my aan die arm. Willie steier agteruit en val byna oor die blou stoel wat voor ma se spieëltafe­l staan.

“En toe, kinders, wat soek julle almal hier?” vra pa vriendelik. “Ons kom net groet, Oom,” se Anna. “O, gaan julle weg?” “Nee . . . nee, Oom.” Mal Kosie lag weer. “Hallo, Kosie,” sê pa. “Siestog, wil jy ’n lekkertjie hê?” Pa kom orent en Willie en Martha laat skiet vir die deur.

Uit ’n kardoes langs die bed haal pa ’n toffie en sit dit in Kosie se hand.

Anna loop stadig agteruit. By die deur sê sy: “Tot siens, oom Koch, en baie dankie vir alles wat Oom vir ons gedoen het.” Toe gaan sy aan die grens en hardloop met Mal Kosie en al in die gang af. Mal Kosie se toffie rol oor die vloer. “Nou toe nou. Wat sou die arme meisie makeer?” Pa sak agteroor teen sy kussings.

“Siestog, hulle kry ook so swaar. Die groot gesin en min kos.”

Tickey sluip by die deur uit en ek huil nou hard. Pa trek my nader en my gesig leun teen sy benerige bors.

“Hoekom huil my liefkind dan, mmm? Wat is dit, engelkind? Vertel vir pa.”

“Sal Pa . . . sal Pa . . . nog vir my een . . . koop?” “Nog een wat koop, my kind?” “Fiets. Die fiets koop?” Pa lag en vee oor my hare. “Natuurlik sal pa vir jou ’n fiets koop. Ek het mos beloof. En beloftes maak mos skuld.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa