Huisgenoot

Parnells se ompad na die liefde

Hul eerste afspraak wou nie vlot nie, maar daar was ’n keerpunt . . . en vandag is Wayne en Aisha getroud

- Deur LARA ATSON Foto’s: PEET MOCKE

EEN Proteaspel­er het haar gereeld voor die kassie laat vassteek. “Oe, hy is sexy. Wie is hy?” wou Aisha Baker-Parnell (26) dan by haar krieketmal pa en broer weet. Die antwoord? Wayne Parnell. Dis einste Wayne wat onlangs met 11 paaltjies die grootste paaltjievr­aat was in die eendagreek­s teen Sri Lanka.

Maar dit was nog in die verskiet toe Aisha se vriendin die TV-persoonlik­heid Zuraida Jardine in 2014 ’n kiekie van haar en Wayne op Instagram deel. En toe Aisha by haar uitvis wie dié “oulike ou” is, het Zuraida hulle deur WhatsApp aan mekaar voorgestel.

Wayne (27), wat toe nog vir die Warriors in Port Elizabeth gespeel het, was pas uit die stort ná ’n dag op die krieketvel­d toe hy ’n vreemde WhatsApp-groep op sy selfoon sien: hy, Zuraida en ’ n onbekende meisie. Wayne en Aisha, ’n mode-en-skoonheids­blogger, het toe lekker in die kletsgroep gekliek.

Twee weke later het hy van Port Elizabeth na Kaapstad gegaan vir ’n wedstryd en vra haar toe uit vir ete. Maar toe daag hy vir hul soesji-afspraak op met ’n vyfde wiel aan die wa – sy skoolmaat Faizel Smith. Dié pols haar toe behoorlik terwyl Wayne met sy mond vol tande sit.

“Dit was basies ’ n onderhoud om Wayne Parnell se meisie te wees,” skerts Aisha. Wayne lag.

Sy het ’n noodplan gehad om ’n teksboodsk­ap aan haar suster te stuur as dinge nie vlot nie. Dan sou haar suster haar kontak en vertel om dadelik huis toe te gaan, want haar alarm gaan af. Sy was op die punt om die boodskap te stuur toe Wayne edamamebon­e bestel, wat sy

nog nooit geëet het nie.

“Dit was aaklig,” onthou sy. “Hy het sy hand uitgesteek, ek het nie die doppe verwyder nie en die boontjies in sy hand gespoeg. En toe vee hy net sy hand af en gaan aan met die gesprek asof niks gebeur het nie. “Toe hou ons van mekaar!” Sy vind toe uit Wayne se Moslemnaam is Waleed, nes haar pa s’n. “My pa was baie opgewonde daaroor. Hy het gesê: ‘Ek dink jy gaan met hom trou; hy’t my naam.’ En toe trou ons sowaar!”

DIE Parnells is stylvol hier in hul knus tweeslaapk­amerhuis in Crawford, Kaapstad. In die binnehof glinster die swembad, en die leefgebied loop op ’n patio en jacuzzi uit. Aisha dra die een ná die ander ontwerpers­uitrusting van die Kaapse modereeks Nala vir ons fotograaf. Sy het 101 000 aanhangers op Instagram en word selfs met die Amerikaans­e sangeres en aktrise Selena Gomez vergelyk. In 2016 is sy deur die tydskrif Glamour as een van die glansrykst­e vroue in die land aangewys en vir ’n Nickelodeo­n Kids’ Choice-prys benoem as beste blogger in die Afrika-kategorie. Wayne, ’n boorling van Port Elizabeth wat vir die Cape Cobras in Kaapstad speel, sit self nie ’n modevoet verkeerd nie. Sy klerekas kreun behoorlik. “Ek dreig heeltyd om sy goed te verkoop,” vertel Aisha.

“Met krieket is mense baie konserwati­ef. Jy moet ’n skoolseun-haarstyl hê en netjies aantrek. Ek is ’n ander soort krieketspe­ler. As ek van iets hou, dra ek dit,” sê Wayne.

Aisha het haar dit altyd aangetrek wanneer mense aanmerking­s maak en is selfs al aanlyn geboelie.

Maar Wayne het haar geleer om ’n dikker vel te hê. “Jy kan vir Wayne enigiets sê en dit sal hom nie skeel nie.”

Tog was hy self ewe vatbaar vir kritiek toe hy jonger was. “Mense sou sê my skoene is aaklig. Maar ek het besef ek werk hard vir my geld; ek kan maak daarmee wat ek wil,” sê Wayne, wat op 19 die jongste gekontrakt­eerde Protea tot nog toe geword het.

Haar man is so plat op die aarde soos kan kom, sê Aisha.

“Dis snaaks, want mense dink ek is vol van myself en arrogant,” antwoord hy.

“Ek dink dis omdat hy hou van aantrek en lief is vir dans,” meen Aisha. “Hy dans dikwels op die veld. Hy is ’n tipiese PE-ou: teruggetro­kke, skaam en stil. Ek is luidrugtig en praat baie.”

Aisha se ouers, Waleed en Zenobia, haar suster, Bilqees (20), en broer, Ayub (30), is versot op Wayne.

Sy ouers, Linda en Peter, ondersteun hom in alles wat hy doen.

Hy het in September 2015 Kaap toe verhuis, maar eers in Maart verlede jaar vir Aisha se pa ingevolge die Moslemgelo­of om haar hand gevra.

Aisha het in haar ouerhuis in die Kaapse middestad vir haar en Wayne staan en eiers kook toe ’n boodskap op haar selfoonske­rm flits.

“My pa het in die familie-WhatsAppgr­oep gesê: ‘Aisha trou op 21 Mei,’ ” vertel sy en lag.

Aisha blog vir ’n lewe. Dis hoekom sy wou hê hul sprokiestr­oue by die Zeenatul Islam-moskee in Distrik Ses moet privaat wees. Daar was twee seremonies – een die oggend met 450 gaste en nog een die middag met 150 gaste. Die bruid het twee pragskeppi­ngs van die Kaapse modehuis Me Couture gedra.

Vier dae ná die troue moes Wayne na die Wes-Indiese Eilande vlieg om krieket te speel. “Ek het my hele lewe in my ouerhuis gebly . . . Toe is Wayne weg en ek is skielik alleen in dié groot huis. Ek was so bang. Toe vlieg ek na hom toe,” vertel sy.

Sy is steeds lugtig vir alleen bly. Die ander Proteas se vroue stuur darem vir haar boodskappe om te vra of sy oukei is.

AISHA is die sosiale vlinder en Wayne die huishen. “Ek speel PlayStatio­n en kyk TV-reekse soos Pitch, Lucifer en Westworld,” vertel hy. “En ek is mal oor sokker.” Hoe voel hy oor hul Instagram-lewe? “Ek is oukei daarmee. Eers het ek gedink die blog-ding is laf. Maar jy het ’n sakebrein nodig en sy het darem ’n graad in sakestudie. Dis meer as om net ’n oulike selfie te neem.”

Hul ouers het alles vir hulle gedoen; nou moet hulle self oor die weg kom. Hulle was al in donkerte gehul toe hulle vergeet om elektrisit­eit te koop, en Aisha moes ná hul troue leer kook.

Wat bewonder hulle in mekaar? “Die feit dat sy na my kan kyk,” sê Wayne. “Ek is die ma en hy is die baba,” skerts Aisha. “Ek hou daarvan dat hy familiegeo­riënteerd is. Hy hou van kinders.”

Sy vertel Wayne is lekker broeis. “Ek geniet kinders,” vertel hy. “Omdat my werk so stresvol is en jy altyd in die openbare oog is, is dit lekker om saam met hulle te ontspan. Hulle hardloop rond, poep en lag. Of hulle trek my baard en soen my wang. Dis so opreg.”

’n Klein weergawe van die stylvolle Wayne of Aisha? Ons kan skaars wag.

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Die krieketspe­ler Wayne Parnell en sy vrou, Aisha, by hul huis in Kaapstad. INLAS: In aksie vir die Proteas. LINKS: ’n Mens kan AishaA altyd deur ’n ring trek. REGS: Wayne by sy indrukwekk­ende tekkievers­ameling. NAASREGS: Aisha wys haar...
HOOFFOTO: Die krieketspe­ler Wayne Parnell en sy vrou, Aisha, by hul huis in Kaapstad. INLAS: In aksie vir die Proteas. LINKS: ’n Mens kan AishaA altyd deur ’n ring trek. REGS: Wayne by sy indrukwekk­ende tekkievers­ameling. NAASREGS: Aisha wys haar...
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa