Huisgenoot

Prins Harry en sy Meghan raak ernstig

Harry en Meghan het vir die eerste keer openlik gewys hoe hulle oor mekaar voel, wat volgens ingeligtes betekenisv­ol is – en daar’s ’n ring . . .

- Saamgestel deur NICI DE WET

VIR ’n romantiese aandjie uit het hulle ’ n tafel vir twee gekies in ’ n klein, gesellige area van ’n eksklusiew­e Londense restaurant. Maar al wou die rooikopman en die beeldskone brunet so onopsigtel­ik moontlik wees, het geen blinkoog-kyk, stralende glimlag of liefdevoll­e gebaar tussen hulle ongemerk verbygegaa­n nie.

En toe die verliefde paartjie ná ’n intieme aandete by Soho House, ’n klub vir privaat lede in Wes-Londen, hand aan hand in ’n bedrywige Londense straat afstap, het die kameras geflits.

Met dié dat die rooikop ’n bloubloedp­rins is, spreek daardie toneel boekdele. Dit is die eerste keer dat prins Harry (32) en sy meisie, die Amerikaans­e aktrise Meghan Markle (35), in die openbaar wys hoe hulle oor mekaar voel, sê waarnemers van die koninklike familie. En ná ’n romanse van agt maande verdiep hulle daarmee hul verhouding, reken dié wat weet.

’n Restaurant­ganger het aan die Britse koerant The Sun gesê op hul eteafspraa­k het die twee nie in ’n privaat area gesit nie. “Hulle was tevrede daarmee om gesien te word; hulle het net mekaar raakgesien.”

Intussen het die agies nog ’n teken opgelet dat die romanse tussen die vyfde aanspraakm­aker op die Britse troon en die aanvallige aktrise ál ernstiger word: Meghan dra ’n nuwe goue ring aan haar regterhand met die letter “H” daarop. Hierdie eenvoudige stukkie juweliersw­are (aan koninklike standaarde gemeet) laat die tonge wyd klap. Is dit ’n belofterin­g en die voorloper van een met ’n blink steen? Is die partytjiep­rins ná ’n rits mislukte verhouding­s nou reg om nes te skop?

“Dit sal wonderlik wees om iemand anders langs my te hê om die druk te deel,” het Harry in 2015 gesê kort nadat hy en die Britse aktrise Cressida Bonas (28) uitgemaak het. “Maar die tyd sal aanbreek. Jy kan nie dié dinge aanjaag nie; dit sal gebeur wanneer dit gebeur.” En dit lyk asof dit blitsvinni­g aan die gebeur is.

DIE afgelope vyf weke was die twee duifies onafskeidb­aar, vertel vriende. Meghan woon in die Kanadese stad Toronto, waar sy aan die TV-regsdrama Suits werk, maar het ’n blaaskans geneem en by Harry in Londen gaan kuier. En dit nogal by sy kothuis by die Kensington-paleis. “Hulle woon feitlik saam,” onthul ’n vriend van haar. “Sy kook vir hom, hy glip uit gim toe en hulle geniet dit net om saam te kuier.”

Die liefde het gou tussen hulle begin blom nadat hulle mekaar verlede Mei op Harry se besoek aan Kanada ontmoet het (Harry se mej. Reg?, 17 November 2016). Al woon hulle aan verskillen­de kante van die Atlantiese Oseaan, bestee hulle soveel tyd moontlik saam.

Hulle het Kersfees weg van mekaar deurgebrin­g – Harry was soos gewoonlik saam met die res van die koninklike familie op hul landgoed Sandringha­m. Maar die Nuwejaar het hy saam met sy meisie in Londen ingelui.

Daarna het Harry Meghan verras met ’n romantiese vakansie in Noorweë, een van sy geliefkoos­de bestemming­s. Hy het ’n afgeleë hut in die Noordpools­irkel gehuur waar hulle hulle saam aan die noorderlig kon verwonder. “Harry wou die eerste vakansie iets maak wat Meg nooit sal vergeet nie. Hy het baie daaroor nagedink en wou hê dit moet so romanties en spesiaal moontlik wees,” vertel ’n vriend.

Hy reken die twee kan in die Britse lente verloof raak. “Ek weet dis so gou dat dit gek klink, maar hy is halsoorkop verlief en hulle kan dit nie verduur om van mekaar weg te wees nie. Sy het gesê sy is reg om op te hou toneelspee­l en Londen toe te trek.

“Hulle albei wil met ’n gesin begin.”

Tyler Dooley (24), seun van Meghan se halfbroer, Thomas Markle jr. (50), beaam dit. “Sy het in haar loopbaan sukses behaal en nou mnr. Reg gevind,” het hy aan ’n Australies­e tydskrif oor sy bekende tante gesê. “’n Gesin is volgende. Selfs as jong meisie het sy al ’n moederlike sy gehad.” Meghan, wat in 2013 ná ’n huwelik van drie jaar geskei is van haar eerste man, die rolprentve­rvaardiger Trevor Engelson (40), het nie kinders nie.

Dit lyk asof sy nie net een van die planeet se hubaarste vrygeselle se hart verower het nie; sy dra ook sy familie se goedkeurin­g weg. Harry het glo gereël dat sy eerste sy skoonsuste­r, Catherine, die hertogin van Cambridge (35), by die Kensington-paleis ontmoet. “Dit het baie goed afgeloop,” vertel ’n bron. “Hulle (Harry en Kate) is baie geheg aan mekaar en hy heg groot waarde aan haar mening oor vroue. Met dié dat Harry se ma, prinses Diana, dood is toe hy nog baie jonk was, vervul Catherine die rol van ’n ma of ouer suster.”

Meghan het ook al prins William (34) ontmoet, maar ’n ontmoeting met koningin Elizabeth II, Harry se ouma, lê nog voor. Die 90-jarige matriarg steun glo haar kleinseun se verhouding volkome.

Die aktrise het Harry tydens een van sy besoeke aan Toronto aan haar 72-jarige pa, Thomas Markle sr., voorgestel. Dit is onduidelik of hy ook al haar ma, Doria Ragland (60), ’n joga-instruktri­se, ontmoet het.

Meghan se ouers is geskei toe sy ses was. Tydens haar kinderjare in Los Angeles het haar pa, wat as TV-beligtings­regisseur gewerk het, haar dikwels saamgeneem na die stel van TV-reekse soos Married . . . with Children en General Hospital.

Thomas jr. sê pa en dogter is baie geheg aan mekaar en hul pa het van die begin af van Meghan se verhouding met die prins geweet. “Hy is baie ingenome met Harry en uiters trots op haar.”

Vir party van Harry se vorige meisies was die druk een te veel om voortduren­d in die openbare oog te wees. Maar Meghan sal dit waarskynli­k beter kan hanteer, want sy is reeds self bekend en suksesvol. Nie net vertolk sy ’n hoofrol in ’n treffertel­evisiereek­s nie; sy skryf ook ’n leefstylbl­og met die titel The Tig, kuier saam met BBP’s en het haar eie klerereeks.

Sy het ook al as kampvegter vir vroueregte vir die Verenigde Nasies die vorige sekretaris-generaal van dié liggaam, Ban Ki-moon, in sy ampstermyn ontmoet. Soos Harry is sy ’n passievoll­e filantroop wat die wêreld vol reis om mense te help. In Januarie het sy Indië besoek as wêreldamba­ssadeur vir die liefdadigh­eidsorgani­sasie World Vision. Daar het sy saamgewerk met Rise Up! Daughters of India, ’n organisasi­e wat hulle beywer vir beter higiëne vir skoolmeisi­es. “Dit was vir haar ’n ongeloofli­k produktiew­e en betekenisv­olle ervaring,” vertel ’n bron. “Sedert sy 11 was, werk Meghan aan vraagstukk­e rakende vroue en meisies. Destyds het sy briewe oor seksisties­e seep-advertensi­es aan Hillary Clinton (toe presidents­vrou) geskryf.”

Sy het haarself al as ’n “parmantige Amerikaner met sterk menings” beskryf. Onlangs het sy haar besorgdhei­d uitgespree­k omdat haar karakter in Suits soveel sekstonele het en noupassend­e pakkies moet dra. “Daardie potloodrom­pe sit so styf dat jy net-net kan uitasem, maar ek stry om dit ter wille van balans met ’n oorgroot manshemp te kombineer,” sê sy.

 ??  ?? HOOFFOTO, NAASREGS en HEEL REGS: Meghan en Harry het die hoofopskri­fte gehaal toe hulle die eerste keer uitgaan en hande vashou ná ’n aandete by die eksklusiew­e Soho House in Londen.
HOOFFOTO, NAASREGS en HEEL REGS: Meghan en Harry het die hoofopskri­fte gehaal toe hulle die eerste keer uitgaan en hande vashou ná ’n aandete by die eksklusiew­e Soho House in Londen.
 ??  ?? REGS BO: Kort daarna het Meghan ’n ring met die letter “H” daarop aangehad toe sy blomme in die stad gaan koop. ONDER: Danksy Meghan se Instagram-profiel kan ondersteun­ers haar elegante woonplek in Toronto sien wat sy met haar honde, Bogart (links) en...
REGS BO: Kort daarna het Meghan ’n ring met die letter “H” daarop aangehad toe sy blomme in die stad gaan koop. ONDER: Danksy Meghan se Instagram-profiel kan ondersteun­ers haar elegante woonplek in Toronto sien wat sy met haar honde, Bogart (links) en...
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa